10 maande gelede
Luister net na mekaar

‘PEOPLE give us the gift of their stories, and we give them the gift of listening,” lui die woorde van die skrywer.

Ek het die aanhaling die eerste keer gehoor toe ek ’n paar jaar gelede ’n Narratiewe Terapie-konferensie bygewoon het. Ek het die woorde toe in my hart gebêre. Dit was betekenisvolle woorde, want ek glo dat elkeen ’n storie het, en dat ons tyd moet maak om na mekaar se stories te luister.

Wanneer iemand sy of haar storie met jou deel, moet ’n mens in gedagte hou dat dit daardie persoon se keuse is om hulle storie te deel. Dit gaan dus van jou afhang om waardering te toon deur ten minste met onverdeelde aandag te luister. Ek meen, dit sou net goeie maniere wees, of hoe?

Tog vind ek die laaste tyd dat ál meer mense, seker maar tekenend van die tyd waarin ons leef, vreeslik ongeduldig is as hulle met jou, of selfs in geselskap met andere, ’n gesprek voer. Die een met wie jy gesels, kan net nie wag dat jy moet klaar praat nie, want hy of sy wil sélf ôk iets vertel!

Ek het al ’n paar kere teenoor so iemand of ’n paar mense gesit en gewonder of die een ooit opgelet het dat ek nie ’n woord verder gepraat het nadat hy of sy ’n halfuur aaneen (meest­al oor wat hulle het, of bereik het) gepraat het nie.

Het mense verleer om na mekaar te luister? Jaag ons nie dalk te veel materiële dinge na en wil by elke geleentheid ons eie beuel blaas nie?

Wanneer laas het jy regtig na iemand of mense geluister, sonder om jou twee sent in te gooi?

Die woorde “silent” en “listen” is twee verskillende woorde, met verskillende betekenisse, maar met dieselle letters saamgevoeg.

So is dit byvoorbeeld nodig om stil te wees om te kan luister. Snaaks genoeg is dit dié woorde wat talle sukkel om te doen. Stil wees en luister.

Onthou, elkeen het nie net ’n storie nie, hy of sy moet ook toegelaat word om sy of haar storie te vertel.

As jy meer in stilte na ander luister, kan iemand anders se storie dalk vir jou heling of selfs ’n openbaring bring.

By bogenoemde konferensie het ’n vriendin, Vigdis Eriksen, ’n familie­terapeut van Noorweë, ’n sessie aangebied waartydens sy met my ’n onderhoud gevoer het. Wat sy by die konferensiegangers wou tuisbring en wat sy in haar terapiesessies in haar tuisland doen, is om mense te laat besef dat hulle die “star” in hulle eie stories is. Ja, elkeen is die ster in hulle eie storie. Kom ons deel ons stories, maar leer ook om na ander s’n te luister.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters