4 maande gelede
Local sterre makeer liefde

DESTYDS, toe ek doer in die sewentigerjare nog ’n snotneusklonkie was, was daar hierdie een song wat my liefde vir plaaslike musiek aangewakker het.

Hallelujah! Hallelujah!” het Richard Jon Smith se klokhelder stem die begin aangekondig van die hit “Michael Row the Boat Ashore”. Dan het ek van waar ook al ek gespeel het, huis toe gehardloop en my voor die draadloos gaan neerplak om na my gunsteling-song te luister.

In daardie tyd was dié sanger se naam op almal se lippe. En almal wou soos hy gesing het – of hulle nou dronk of nugter was.

Ja, Richard Jon Smith was ons trots. In dieselfde asem kan ek die name van ewe groot ysters, soos Jonathan Butler en Ronnie Joyce, opnoem. Dié sangers het ’n groot aanhang onder bruin Suid-Afrikaners gehad. Hulle het vol venues getrek.

Dit was natuurlik voordat Westerse en Europese invloede met die koms van televisie na ons land gespoel het.

Stelselmatig het die support vir ons eie talent begin kwyn.

Vandag hang ons internasionale sangers aan. Die Grand Arenas en stadions is tjok-en-blok vol wanneer bekende, internasionale musikante – van wie sommige nie eens die woorde “morele waardes” ken nie – hier kom toer.

Maar ons eie kunstenaars sukkel om selfs ’n gemeenskapsaaltjie vol te kry.

Ons artists sukkel en gaan arm dood, want daar is nie meer goeie ondersteuning nie.

Vandag ken die laities die lirieke (vloekwoorde en ál) van omtrent elke oorsese hip-hop song.

Dan dink hulle dis nou cool.

Maar ek is ’n trotse Suid-Afrikaner wat glo in die vermoëns van ons eie musi­kante. Hulle kan met die heel bestes in die wêreld kompeteer.

Daar is Karen Kortjé, Vicky Samp­son, Vuvu Kumalo, Sydwell Beziek, The Rockets … en só kan ek aanhou. Ek sal hulle altyd ondersteun.

Ek skryf oor ons jong en opkomende sangers. Ek praat oor hul talente, want ek is trots op hulle. Ek is trots op ons sangers, soos Rocco V en Wayne Topley, wie se talente oorsee waardeer word.

Dan is daar dié oomblik wat my altyd sal bybly … In November laas jaar is ek saam met The Rockets genooi na ’n show van hulle in ’n Bolandse dorpie. My hart het warm geklop toe ek sien watter heldeontvangs hierdie gewilde disco band van die plaaslike gemeenskap ontvang.

Nou vra ek met trane in my vlootblou ogies: Kom ons gee ons plaaslike talent die eer en steun wat hulle toekom?

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters