7 maande gelede
Laat ons net mekaar liefhê
Nicolette Fouldien  ~ Foto Verskaf

MET groot vreugde ontvang ek onlangs die nuus dat ek onder die topdrie geëindig het in ’n Facebook-skryfkompetisie.

Die kompetisie was straf, maar in ruil bied dit jou die groot prysgeld van R25 000!

So, dit was weke se swoeg en sweet, maar ek druk deur, want Krismis lê om die draai en wie sou nou nie kon doen met ’n ietsie ekstra nie?

Ek klim op die vliegtuig met groot opgewondenheid. Dít op sigself is ’n belewenis vir my, wat vars van die platteland is.

Ek en manlief hou mekaar se hande styf vas. Uit liefde, maar meer uit benoudheid.

Ons land op Lanseria en daar eet ons die lekkerste en warmste bunny chows terwyl ons vir ons lift wag.

Op pad na Vanderbijlpark verkyk ek my aan dié vreemde wêreld. Selfs die geboue lyk vir my anders en nêrens het ek al sulke groot klippe gesien soos hier nie! Oral lê enorme rotse langs die pad.

By ons aankoms by die Emerald Hotel, ná vyf ure se reis vanaf my tuisdorp, is my moeg sommer weg toe ek al die luukses sien.

Die dorheid van die landskap is vergete.

Hier is dit net groen grasperke, bome, terrasse en die grote Vaalrivier wat rustig verbyvloei. Oorkant die swembad wei die wildsbokke en vlakvarke ewe rustig.

Ná die oggend se hitte is die kamers se lugverkoeling salig. Maar tyd vir rus is daar nie. Ons moet gereed maak vir ’n bootreis op die Vaalrivier. Nóg ’n eerste vir my – en vir iemand met ’n heilige vrees vir water nie ’n goeie vooruitsig nie.

Ná net ’n minuut is ek heeltemal op my gemak. Jy voel skaars die boot se beweging terwyl hy verby die mooiste natuurtonele vaar. Ek verkyk my en ons neem foto’s vir Afrika.

Die atmosfeer is vrolik. My medepassasiers en -skrywers maak behoorlik kennis. Ons eet die lekkerste kos en al duur dit twee ure, is die rit te gou verby.

Ons is vroeg op vir ontbyt, opgewonde oor die wildrit wat voorlê. Dis nog een van my wense wat waar word en dit stel glad nie teleur nie.

Kameelperde, sebras, blouwildebeeste, verskillende bokspesies en vele meer. Ons hang aan die bekwame gids se lippe en ek leer meer oor die diereryk as in ál my jare op skool. Ons eindig met ’n piekniek in die veld.

Terug by die hotel is dit tyd vir regmaak vir die aand se galageleentheid waar ons ons pryse gaan ontvang. Dis ’n spoggeleentheid met goeie musiek en kos uit die boonste rakke. Die geselskap is gemoedelik en die atmosfeer gemaklik.

Daar word baie gelag. Jy kan die gemeensaamheid tussen die skrywers aanvoel.

Meteens tref dit my – ons kan ons geskille opsy sit. Mense van verskillende rasse en agtergronde kan lief wees vir mekaar sonder voorbehoud. Hier deel ons nie net ’n passie vir die skryfkuns nie, ons omhels ook mekaar se menswees en egtheid.

Niemand hoef ’n masker te dra nie, want ons harte is reeds ontbloot deur ons skrywes gedurende die weke lange kompetisie. Ons ken mekaar se bekommernisse, seer en verlange.

Ons is hier bymekaar en al wat ons nou wil doen, is om vriendskap en liefde te betoon. Ons almal het dit so bitter nodig.

Ek klim op die vliegtuig met my geraamde tweedeplek-sertifikaat onder­ my blad vasgeklem en ek voel soos ’n wenner! Dis my verjaardag en God het ’n groot boks daarbo oopgemaak sodat al die mooie seëninge op my neertuimel. Ek is nederig en dankbaar. Die lewe is mooi.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters