2 maande gelede
Tyd kom vir diepe denke

’N HARDLOOPVRIEND, Koert Meyer, druk ’n tyd gelede ’n memory stick in my hande en vra: “Lees die artikels daarop en korrigeer, laat weg, voeg by, net soos jy wil. Gee my jou eerlike opinie.”

Ek voel geëerd. Koert is ’n afgetrede skoolhoof en ken dus van met woorde werk. Soos ek lees, kom ek agter dat sy werk veel stof tot nadenke bied.

En toe kom ek op ’n juweel in sy skrywerskatkis af.

Sy artikel oor “Sukses” het my herinner aan waarvan ons in die 21 dae van afsondering kennis behoort te neem.

Sukses beteken vir verskillende mense verskillende dinge. Is dit jou spoggerige sportmotor, jou luukse huis, jou string grade, jou vet banksaldo of jou wegbreekplekkie iewers ver?

Eksterne voorwerpe wat ons suksesvol laat lyk, gaan ons nie noodwendig gelukkig laat voel nie.

Behoort sukses miskien ons aardse reis te wees om ons volle potensiaal te bereik – en nie ’n eindbestemming nie?

Wat beteken ons bymekaargeskraapte aardse besittings tog as ons die dag tot sterwe kom?

Onthou, die doodskleed het geen sakke nie!

Moet sukses nie dalk ons roeping hier op aarde wees nie? Die soeke na die eie self.

Te veel ryk mense sterf as ongelukkige ellendelinge. Nooit het hulle hulle werklike passie, hulle ware menswees, hulle “menschheid”, hulle Godgegewe potensiaal, tot sy reg laat kom.

Ari Onassis, die Griekse skeepsmagnaat en destyds die wêreld se rykste mens, se troontjie het op 69-jarige ouderdom inmekaar getuimel.

Sy enigste seun, Alexander, het in ’n vliegtuigongeluk gesterf. Twee jaar ná sy dood sterf Ari ook.

Het hy nie dalk al met sy seun se dood ophou lewe nie?

Ari se enigste oorlewende kind, sy dogter Christina, erf toe miljarde van haar pa. Dit het haar een van die rykste vroue van haar tyd gemaak.

Sy sou egter vier keer trou.

Longsiekte

Al haar skatte kon haar nie gelukkig maak nie. Al vier haar huwelike het in egskeidings geëindig.

In die jeugdige ouderdom van 37 sterf Christina toe aan ’n longsiekte, wat moontlik ontstaan het as gevolg van die newe-effekte van dieet- of slaappille.

Roem is ook geen waarborg vir gemoedsrus nie. Die beroemde skilder Vincent van Gogh het selfmoord gepleeg.

Kurt Cobain, die beroemde rock-sanger van die groep Nirvana, het homself geskiet.

Ander beroemdes soos Ernest Hemmingway, die bekroonde Amerikaanse skrywer, ook Virginia Woolf, Engelse skrywer en uitgewer, en ons eie Gé Korsten het selfmoord gepleeg. Johannes Kerkorrel het ook sy hand aan eie lewe geslaan (of so moet ons glo) ...

Moet sukses nie eerder daardie tyd wees wat ons met ons geliefdes deurbring nie; of dinge wat ons doen om die wêreld ’n beter plek te maak; of om altyd bewus te wees van ons medemenslikheid nie?

Gelukkig kry ons nou met die 21 dae van inperking weens die corona-virus tyd vir bepeinsing.

Die gejaag na wind en deelname aan die rat race is tydelik gestaak!

Mag dié tydperk van afsondering ons toelaat om diegene die naaste aan ons te herontdek en opnuut te koester!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters