24 dae gelede
Die onthou kom lê vlak
Petro L.M. Gordon.  ~ Verskaf

LAAS Sondag, 1 Maart, was dit die herdenking van die geboortedag van my oorle oupa Hans Koordom.

Hy sou vanjaar 120 jaar gewees het. Ek onthou hom en my ouma Magrieta (’n nooi Solomons) baie goed, want ons het gereeld in die Desembervakansie vir hulle in Darling gaan kuier.

Die onthou kom lê vlak as ek aan hulle dink; ek sien voor my geestesoog steeds die kort, skraal oupatjie met sy streng uitkyk en kruisbande.

Dan was daar ouma Magrieta met haar stil en sagmoedige gees, lang swart hare in ’n poniestert vasgebind en altyddeur besig in die kombuis.

Argiewe

Ek het ’n hele klompie jare gelede begin met stamboomnavorsing. My oupa is op die plaas Alexanderfontein, so 3 km buite Darling, gebore. Hy was een van die seuns van Fortuin Coordom en sy ma was Lena (’n nooi Faroe).

Wat ’n besonderse ervaring was dit nie om op een van my besoeke aan die staatsargief in Roelandstraat, Kaapstad, sy geboorte-inskrywing te ontdek. Daar was sy naam geskryf, en daarnaas was ’n kruisie waar die moeder se naam geskryf moes wees. “Her mark” is langs die kruisie geskryf.

Dit het ’n traan gebring, soos elke keer wanneer ek ’n nuwe ontdekking doen.

Soms is dit ook net lekker om na al die staaltjies te luister, veral dit wat jy as kind nooit moes weet nie. Al die geheimenisse van die grootmense wat hulle gedink het hulle vir ewig onner ’n kort kombersie kon versteek.

Ek het ’n voorliefde vir die misterie van onvertelde stories. Ek wil wéét iemand sê: “Moenie daar gaan nie, dis moeilikheid soek.”

Soms laat dit ’n glimlag, maar meestal ’n bitter smaak na om die talle stories van jou voor­ouers na te vors en op te teken.

Tog, as ek by tye wil treurig raak oor soveel leed wat aangedoen is, dink ek aan my oorle oom Willyboy wat gesê het: “Ons het swaargekry, maar ons het lékker swaargekry.”

Dit was ook laas Sondag toe ek in gesprek was met ’n paartjie wat ek met hulle familiegeskiedenis help.

Hulle woon in Oudts­hoorn, en ek vertel hulle toe van my gesprek met my vriend ds. André Boezak.

Ek het hom gevra om ’n bietjie te help, want hy het mos darem onmiddellike toegang tot sy kerk se argiewe, want ek is op soek na doopseels van toentertyd.

Hy’t dadelik ingestem en voeg toe so tong innie kies by: “Skinnerstories bly maar die lekkerste navorsing. Ek sal ’n bietjie luister so onder die mense van hierdie families wat jy navors.”

Toe dr. Danny Titus my so ongeveer 15 jaar gelede genooi het om ’n lesing oor familienavorsing te Goudini Spa by te woon, was dit nie in my wildste drome dat ek die voorreg sou hê om ander families aan die hand te vat met hulle navorsing nie. (En nog daarvoor betaal word ook!)

Vir my is dit ’n wonnerlike ervaring om ander te help om hulle komvandaan te leer ken.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters