8 maande gelede
Kykie, hoorie!
FAMILIALE Onderskraging Foto: FORYOURMARRIAGE.ORG  ~ 

DIE Engelse uitdrukking som dit die beste op: Family matters.

Die Afrikaans klink effens waterig: Familie maak saak. Enniehouw, hoe dit ook al sy, familie is daar om mekaar te ondersteun.

Daar is nie net bloedfamilies nie. Daar is kerkfamilies. Gemeenskapsfamilies. Werksplekfamilies. Enige groep is familie wat deur sekere lewenswaardes saamgebind word. En dis oor hulle wat ek vandag ’n paar lyne wil skryf.

Sien, happy families make happy communities.

Soos onlangs toe daar kring getrek is om ’n siek familielid. Nooit het ons mekaar se drumpels deurgetrap nie. Maar in sy of hulle uur van nood het familie gewys wat dit beteken om “daar te wees vir mekaar”.

Familiewaardes en -beginsels is daar om die gemeenskap waarin ons is, ’n beter plek te maak.

Soos die gesinne in gemeenskappe wat dit nie breed het nie. Dis dan wanneer “familielede” daardie mense onderskraag.

Met die dood van ’n seuntjie se mamma het mense wat nie familie is nie, daardie seuntjie onderskraag. Hetsy met aardse middele of nóg beter – om te verseker dat hy uitgesort is vir die toekoms.

Daar word met staatsorganisasies geskakel in die beste belang van sulke kinders.

Soms is dit hongersnood in ons gemeenskappe wat van “ander mense” familie-mense maak.

Omgee-mense... Soms teen die wil van die skinderbekke... Daar is monde wat gevoed moet word.

Wonderlik hoe die Skepper mense se hande oopmaak vir diegene in nood. Wonderlik om te ervaar hoe die Skepper Sy groter-prentjie-plan in werking stel ... Ons loop daar waar ons nie kan sien nie. “I fed the hungry ... I led the blind.” So lui die koortjie.

Wonderlik om te sien wanneer fam­ilies bymekaar staan soos kluitjierys. Wonderlik om nóg ’n matriarg – ’n oudste – in die familie te het wat die familie bymekaar kan hou. Die “Ousie” in die familie, die “Tittie”, die “Ousus”, die “Outit”, die “Tietie”, die “Nanna”.

Soos toe ons as familie ’n tydjie terug by ons eie Tietie se 75-jarige verjaardag gaan skep het uit haar bodemlose put van liefde. Van omgee. Van wysheid.

Nice was die paartie. Nice was dit om weer met familielede wat ons lanklaas gesien het, te bond.

En daardie aand toe ons terugry na ons kaya, het ek besef – family matters.

Kerkfamilies is die ander heterogene groep wat werklik ’n verskil maak in gemeenskappe. Die kerk noem hulle gemeentes.

So, as hulle gemeentes is, moet ons mos ’n verskil maak in die gemeenskappe waarin die gemeentes ingeboesem is.

Dis juis kerkfamilies wat die sterkste fondasie van die waarde van omgee en respek is, of hoe?

Dit help tog nie om net te bid en nie met raad en daad die nood van die gemeenskappe te verlig nie!

Die een familie is noodwendig verweef aan die ander familie, willens en wetens. Daardie skakeling van families in gemeenskappe bepaal die sukses en “gesondheid” van daardie gemeenskappe.

Daar was nog nooit ’n tyd soos nou, met ál die uitdagings van die lewe, dat families mekaar moet omarm nie.

Daar was nog nooit ’n tyd soos nou dat families die Skepper in ál hulle aktiwiteite sal moet intrek nie.

Die aanslae van die lewe op families is besig om met alle erns toe te neem.

Dis tyd vir opstaan. Dis tyd vir vorentoe beur. Verandering kan net deur onsself teweeg gebring word.

Family matters. Familie maak saak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters