9 maande gelede
Krismis laat my terugdink

SAL ek dan nie nou die dag wonder wie almal nog die dae van Kerskaartjies – daai karton-tipe kaartjies – kan onthou nie...

Daai kaartjies wat in die pos gekom het. Met ’n seël geplak op ’n wit koevert. In die regterkantste boonste hoekie...

En mens, was dit nie nice om ’n Krismiskaartjie van familie en vriende te kry nie? Dan het Pa mos altyd ’n stukkie wol gespan van muur tot muur en daai kaartjies met trots in die vou van die kaartjie oor die tou gehang.

Allerhande kleure. Sielsboodskappies. Niks se onpersoonlike Whats­Apps nie... Niks Fakebook-Krismis-wishes nie. Mens, jy kon die Kersgroete in daai kaartjies voel.

En ja, o ja, net so nice was dit om vir iemand anders ’n Krismiskaartjie te gaan pos. Glad ’n vriendelysie gehad. Nie Fakebook se friend list nie.

Nie daai fake vrinne wat jy nog nooit gesien of gehoor het nie. Daai Fakebook-vrinne wat jou op Fakebook laaik, maar nie eens groet as jy dalk toevallig in hulle face vasloop nie?

Krismis was die tyd van die outydse Krismispoeding. Ma Vietie en San was die main koekedoortjies van hulle tyd. Nie TV-sterretjies nie...

Daai Krismiskoeke en Krismispoeding waarin daar muntstukke was. As jy gelukkig was en jou stuk het geld in, is dit jou Krismisboks.

Want sien, ons was maar die gemiddelde gesin wat met net die noodsaak­like middele oor die weg moes kom.

En ek skryf dit vandag hier met groot trots en dankbaarheid.

Dan het pa Kabous altyd ’n regte Krismisboom – ’n tak van ’n denneboom – afgesaag en in ’n drommetjie wat met geskenkpapier toegedraai is, in ons voorhuis versier.

Ja, ’n voorhuis (ons het nie ’n sitkamer gehad nie) moet mos met trimmings vir Kersfees opgedollie wees. Want sien, die gees van Kersfees was vasgevang in al daai kleure en geure van ’n oorvloed van kosse. (Snaaks hoe ’n varkboud ’n naamsverandering ondergaan vir Krismis... nogal “gammon”!)

Die tafel in die voorhuis was te klein vir al die kosse. En, o ja, hoe kan ek die gemmerbier in die sinkemmer vergeet? Van uitskep met die pint-beker en bottels volmaak waarvan die label weke voor die tyd reeds verwyder is?

Onder daai Krismisboom sou daar ’n geskenkie vir jou wees.

Familie laaik mos van geskenkies koop vir Krismis... in die gees van “gee uit die hart”. Of jou Krismiskous sal aan die katelstyl hang.

En ons het geglo Vader Krismis kom deur die skoorsteen... maar nooit het hy vuil-swart geword nie? Die onskuld van toentertyd se kind versus die moderne kind se “Willie Weet-alles”.

Was altyd ’n opgewondenheid om ons maats op ’n Kersoggend in hulle Krismisklere te sien. Daai skoene blink. Dit het altyd vir my gesmaak soos nuwe mense...

Daai opvoering in die kerk van die Krismisverhaal. Die stukkie wat jy moes opsê...

Vanjaar is ons Krismis ietwat anders, want net soos daai prentjies op Krismiskaartjies waar Moeder Maria kniel by ’n krip by haar Jesus-baba, sal ons Baba Blake sy tweede Krismis saam met familie en vriende in liefde ervaar.

Sal die Jesus-kind ook in ál die huise hier die middelpunt van Kersfees wees? Ek hoop elke liewe kindjie – ryk en arm – sal deel wees van hierdie eenkeer-’n-jaar-Kersfees-liefde-fees...

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters