Verlede maand
Kom ons vier die mooi dinge

DIS ’n ongekende tyd. Ons is ingeperk, ingegrendel, gekerker. Dít is hoe verskillende mense die lockdown beskryf.

Elke dag word ons gebombardeer met updates oor positiewe gevalle, hoeveel persone herstel het en getalle van sterftes wat aan die styg is.

Jy raak intussen al hoe meer bekommerd as jou eie familie of vriende essensiële werkers is. Die frontline- werkers.

Hierdie mense is sélf ook bekommerd wanneer hulle ná werk moet teruggaan huis toe.

Dit moet vreesaanjaend wees, want hulle wonder heeltyd of hulle nie dalk onwetend die virus aan hul huisgenote sal oordra nie.

Benoudheid

Jy raak angstig wanneer jy onverwags ’n WhatsApp-boodskappie kry van vriende wat vra: “Dink asseblief aan my gesin. Bid vir ons.”

Jy lees in hul boodskappe die benoudheid en vrees raak, want iemand in die familie is positief getoets.

Jy besef meteens hoe pynlik die omstandighede rondom Covid-19 werklik is wanneer jy na ’n begrafnis moet gaan. Jy moet afskrifte van die oorledene se ID en doodsertifikaat as bewyse kry vir ’n permit van die polisiestasie. Mits jy natuurlik onder die 50 toegelate persone is, bygesê.

Jy hoor van so baie mense wat nog nie na hul werksplekke kon terugkeer om ’n salaris te verdien nie.

Mense raak depressief en geweld teen vroue en kinders neem toe.

Tog, as jy na ál dié negatiewe dinge kyk en daarvan lees, kan jy eenvoudig net nie verstaan waarom mense steeds so onverskillig is en beweeg asof hulle al op vlak 1 is nie.

Gaan hul gedrag verander wanneer iemand na aan hulle getref word?

In teenstelling met ál hierdie negatiewe dinge wat rondom ons en wêreldwyd gebeur, is daar tog hoop.

Daar is mooi en positiewe dinge aan die gebeur in ons gemeenskappe wat dalk nie die nuusblaaie haal of op TV verskyn nie, maar dit gebeur inderdaad.

Kyk mooi in jou straat, dalk op jou dorp se Facebook-blad, luister na geselsprogramme oor die radio en jy sal besef te midde van die pandemie gee mense om en reik uit na ander.

Meer en meer mense gee kos wat netjies verpak is aan die getroue werkers wat die vullis kom verwyder. Iemand speel musiek vir die bure sodat hulle hul dag op ’n goeie noot kan begin.

By ons in die straat het een vrou wat dit self nie breed het nie, ’n jong man wat haweloos is, by haar gesin ingeneem.

Dit is gewone mense wat ons net eenvoudig móét salueer.

So, terwyl ons in verskillende bootjies is, kan ons tog iets positiefs doen.

Hou moed. Die storm sal verbygaan.

Intussen is dit so waar wat iemand aangehaal het: “We are all in the same storm, but only in different boats.”

Covid-19 sal nie vir altyd hier wees nie. Ons sal dalk ná hierdie tydperk baie dinge anders doen as in die verlede, maar ons sal hierdeur kom.

Ek hoop dat elkeen van ons waar ons in ons bootjies vaar, veilig die hawe sal bereik.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters