5 maande gelede
Kom ons dryf armoede uit

DIS oorlog.

Die oorlog teen armoede en die lewe se swaarkry moet verskerp word.

Armoede is daai virus wat aan jou sak vreet; wat jou koskaste leeg vreet. Dit vreet jou menswaardigheid op.

Armoede is die siekte wat veroorsaak dat mense swaar kry en sukkel om kop bo water te hou.

Swaarkry en armoede is wanneer ouma Saar haar pennies moet omdraai om te kies tussen haar lewensnoodsaaklike medisyne en die ewe nodige krag wat moet seker maak die melk in die yskas word nie suur nie.

Armoede is die leier van die vyandelike magte wat die kinders van hierdie land aanval. En faktore soos korrupsie en bedrog is lede van hierdie army.

Daarom is dit nóú tyd dat ons dié vyand van die waardigheid van Sy skepsels met mag en mening aanval.

Alle staatsorgane moet ’n Kodesa oor armoede organiseer. Ons land is met Kodesa bevry... Nie maklik nie, maar moontlik.

Ons need ’n army van armoede warriors om die stryd aan te pak.

Quinton Adams, die stigter van die non-profit The ShackBuilder, het vir ’n groep geleerdes gesê: “Begin klein ... Klein is die nuwe groot. Doen dit voort­durend. Moenie ophou nie... Stuk vir stuk... Dag vir dag moet ons armoede die stryd aansê.”

En wie is ’n beter voorbeeld van ’n fighter jet teen armoede as juis hy.

Dis sulke rolmodelle wat ons need. En ons is in desperate need of true warriors... Hulle is reeds in ons townships. Hulle moet nou net opstaan. Elkeen in sy eie reg, dít is wat ons is – gemeenskapsbouers.

Ek het al hieroor geskryf. Ek sal nie ophou nie. Nie solank ouers hulle kids nog al stuur om aan deure te klop vir ’n broodjie of geld vir krag nie. Dis die tekens dat die oorlog teen armoede nie op dreef kom nie.

Doen ons genoeg? Doen ons iets in die straat waar ons woon, by die werksplek en kerk? Of bid ons net en vou ons arms?

Verligting

Glo ons in die Woord, wat sê dis beter om te gee as om te ontvang? Voer ons ons Bybelse opdrag uit? Die een wat lui: “Wie sal ’n slang gee vir hom wat ’n brood vra?”

Maar gaan dit net om tydelike verligting? Waarom voer ons die oorlog teen armoede nie tot die next level nie?

Waarom beweeg ons nie weg van armoedeverligting en na rykdomverspreiding nie? Want sien, die gaping tussen die haves en have nots is groter as die Stille Oseaan.

Hieroor is die government van die dag net so stil. Hy swyg in ál 11 amptelike landstale.

Die slagspreuk “A better life for all” het ál sagter geword. Het u dit al agtergekom?

Daar is nou nuwe slogans. As RET (radikale ekonomiese transformasie) die solution sal wees, so be it, en vele sal jou glo, maar menige nie.

Armoede is nie ’n bruin, wit of swart ding nie. Dit is ’n Suid-Afrikaanse fenomeen. En daar word bitter min daaraan gedoen.

Suid-Afrikaners droom van werk, want werk gee waardigheid. Werk is ’n sterk missiel teen die army van armoede, maar intussen word die berg van werkloosheid hoër.

Dit bring mee dat die stryd teen armoede al erger word.

Geleerdheid is die beste teenmiddel teen die virus van armoede. Ons moet ons uit armoede studeer. Maar wat as daar nie werk is nie? Is dit nie tyd dat ons onderwysstelsel meer prakties gerig word en opleiding in skaars vaardighede bied nie?

Armoede... A luta continua!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters