6 maande gelede
Klein-klein barmhartig

PRINSES Diana het gesê: “Carry out a random act of kindness, with no expectation of reward, safe in the knowledge that one day someone might do the same for you.”

So ’n paar weke voor die Kerstyd het ek met ’n groepie tieners gesels oor wat dit beteken om random acts of kindness uit te voer.

Hierdie kinders woon nie in die mees gegoede buurt in die Paarl nie.

Hulle het ook nie noodwendig die beste of alles wat hulle van hul ouers sou wou hê nie.

Met die uitsondering van een of twee in die groep woon die meeste by hul ouma of ’n mamma wat die brood­winner in die huishouding is.

Ek is van mening dat enige mens iets vir iemand anders kan beteken, selfs al het jy self niks.

Sien, jy het nie noodwendig geld of materiële dinge nodig om ander te wys jy gee om nie. Somtyds is selfs ’n glimlag oorgenoeg.

Iemand het dalk net ’n drukkie nodig, of dat jy regtig luister wanneer hulle met jou praat.

’n Handgemaakte kaartjie of geskenkie is altyd kosbaar, selfs al is dit net om dankie te sê.

Die lys van dinge wat jy vir ander kan doen, is eindeloos.

Maar kykie, hoorie! Het ek toe byna my melk en water weg geskrik toe hulle met ’n versoek na my toe kom!

Vroeg in verlede jaar het ’n hele woonstelgebou tot op die grond afgebrand. Die inwoners het alles verloor.

Die plaaslike munisipaliteit het vir die gesinne tydelike huisvesting gebied. Die mense woon steeds daar – party van hulle in tente en sommige in chalets.

“Hoekom doen ons nie iets vir daai mense wie se huise afgebrand het nie?

“Hulle het niks,” was een van die kinders se versoek.

Ek het weer besef hierdie kinders het dalk min, maar hul harte sit definitief op die regte plek.

Dit was vir my ’n emosiebelaaide reis om te sien hoe hulle van hul eie klere en skryfbehoeftes van die huis af bring om uit te deel.

Ons projek was werklik geseën. Op Oukersdag kon ons aan daardie kinders elk ’n geskenkie en maaltyd gee.

Die mooiste van alles was nie net die dankbaarheid op die gesiggies van hulle wat die pakkies en kos ontvang het nie; die stralende gesiggies van hulle wat dit oorhandig het, het ook ’n indruk op my gemaak.

Die Chinese gesegde lui: “A bit of fragrance clings to the hand that gives the flowers.”

Dít het toe vir my sin gemaak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters