28 dae gelede
Kiesstelsel kort revamp
Foto ter illustrasie  ~ 

DIE toenemende ontevredenheid oor parlementslede (LP’s) en lede van die provinsiale wetgewers (LPW’s) se gebrek aan voldoende oorsig tydens die Covid-pandemie is geen nuwigheid nie.

Trouens, dis ’n historiese kwelling en verg ’n diepgaande herbesinning van ons parlementêre kiesstelsel, want LP’s en LPW’s is geensins direk aan kiesers verantwoordelik nie, maar wel aan hul partybase. Die deursneekieser weet nie eens wie hul LP of LPW is nie. Dit behoort nie so te wees nie.

Al ken politieke partye LP’s en LPW’s ná verkiesings aan selfgeskepte kiesafdelings toe, werk die stelsel nie so effektief nie, want in die meeste gevalle is die betrokke LP of LPW ’n onbekende of ongewilde persoon wat deur partybase op kiesers afgedwing word.

Sommige LP’s of LPW’s doen net nie hul werk nie, want daar is nie net grondige beskuldigings dat hulle nie hul oorsigwerk doelmatig doen nie, maar ook hul gemeenskapswerk. As die partystrukture hieroor kla, word daai LP of LPW sonder seremonie herontplooi – sonder dat kiesers in die saak geken word. Kiesers is magteloos en so word die volgende LP of LPW sonder hul inspraak op hulle afgedwing.

Nog ’n kwelling is hul hebsugtig hoë salarisse en byvoordele wat – in die lig van die ekonomiese krisis weens Covid-19 en die ANC se mislukte makro-ekonomiese filosofie – verminder behoort te word.

Ironies genoeg doen politici gereeld uitsprake dat die salarisrekening van staatsamptenare verklein moet word, maar toe die parlement laas jaar ’n voorstel ingedien het dat LP’s se salarisse en byvoordele verminder behoort te word, het sommige siellose politici hul misnoeë met dié voornemens te kenne gegee. Me. Peace Mabe, uitgesproke ANC-LP en medevoorsitter van die komitee oor die finansiële bestuur van die parlement, dink blykbaar politici is heilige koeie en reeds daarom behoort dit nie nodig te wees nie.

Op grond van die posisies wat LP’s tans in die parlement beklee, verdien hulle R1,2 tot R2,4 miljoen per jaar. Belastingbetalers betaal R120 miljoen per jaar aan vliegkaartjies vir sowat 2 000 huidige en oud-LP’s en ministers en hul afhanklikes.

LP’s, LPW’s, ministers en adjunkministers kry gratis verblyf in huise in Kaapstad en waar die nege provinsiale wetgewers in die land geleë is.

Boonop kry elke politikus 84 gratis vliegkaartjies per jaar. Hulle geniet ook goedkoop gesubsidieerde etes en drank by die parlement se kafeteria in Kaapstad en by elke provinsiale wetgewer.

  • Politici geniet ook gratis parkering by lughawens landwyd en word daagliks gratis per bus tussen die parlement en hul gratis verblyf in die drie parlementêre dorpies in Kaapstad vervoer.

’n Verandering van die kiesstelsel is dringend noodsaaklik omdat die belang van die kieser bo dié van ’n party geplaas moet word. Die eerste poging in dié verband ná die verkiesing in 1994 het 17 jaar gelede plaasgevind, maar dit was onsuksesvol omdat die regering hom aan dié aanbevelings afgevee het.

Die (Frederik Van Zyl) Slabbert-kommissie is in 2003 aangewys. Dit het ’n gemengde stelsel aanbeveel waarvolgens 300 LP’s in kiesafdelings verkies moet word en 100 van proporsionele lyste aangewys word. Dit sou die huidige geslote proporsionele kiesstelsel, waarin al 400 LP’s van lyste aangewys word, vervang het.

Dié voorstelle (wat nou stof vergader) – met die kiesafdelinggedeelte geskoei op die Britse Westminster-stelsel – is ’n goeie verbetering op die huidige stelsel omdat kiesers nie direk betrokke is by die kies van hul LP’s is nie.

Ek het egter bedenkinge oor dié kommissie se voorstel dat ’n kiesafdeling drie tot sewe LP’s moet hê omdat die konsep van aanspreeklikheid hierdeur verlam word. Dit sal tot ’n gestry onder LP’s lei oor wie ’n kiesafdeling se belange dien.

Uitwissing

Reeds daarom sou ek voorstel die land moet in 240 kiesafdelings – een vir elke LP – verdeel word. Dit sou die weg baan vir die vestiging van ’n gesonde kieser-LP-verhouding omdat LP’s sou besef as hulle nie hard werk nie, sal hulle nie herverkies word nie.

Die oorblywende 160 LP’s moet van proporsionele lyste aangewys word. Só sal kleiner partye soos die VF+ en Good deur die proporsionele deel van uitwissing in die parlement gered word as hulle nie ’n kiesafdeling wen nie.

Tesame met die skrapping van die bestaande wetgewing wat verhoed dat ’n LP of LPW van party kan verwissel sonder om sy of haar setel te verloor, sal dit ’n totale herskikking in die politiek teweegbring. Dit sal die huidige diktatoriale beheer van partyleiers oor hul LP’s en LPW’s verminder.

Die oorsigsrol van die parlement en provinsiale wetgewers sal sodoende versterk word en dit sal bydra tot die groei en uitbou van ons ontluikende grondwetlike demokrasie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters