Verlede maand
Intervensie is nou nodig teen dié oënskynlik
tekorte: ’n Ouer is bekommerd dat skole nie genoeg handboeke het nie. Foto ter illustrasie : Foto24  ~ 

VOLGENS die president sal sy pas kabinet sterk fokus op sewe prioriteite wat in sy staatsrede uiteengesit is.

Dit sluit ekonomiese transformasie en onderwys in. Pres. Cyril Ramaphosa gaan ’n massiewe leesveldtog onder alle landsburgers probeer mobiliseer. Hy wil graag sien dat elke tienjarige in die nabye toekoms kan lees – en met begrip kan lees.

Ramaphosa het in sy staatsrede ook genoem dat vroeë lees die basis vorm. Dit bepaal ’n kind se opvoedkundige vordering. As deel van hierdie veldtog sal alle grondslag- en intermediêre-fase-onderwysers opgelei word om lees te onderrig. In Engels en in alle Afrikatale.

Hierdie beloftes en vooruitsigte van die president het my uitermate bly gestem. Bly in die sin dat hy bewus is van die huidige toedrag van sake. Dis nou veral ten opsigte van die gebrek aan leesvaardighede en die hoë uitvalkoers onder leerders.

Huistaal

Dié leesmobilisasie is uiters noodsaaklik. Ek hoop en vertrou terselfdertyd daar sal ook aan moedertaal­onderrig aandag gegee word. Die aanmoediging van lees en leesvaardighede gaan immers met moedertaal gepaard!

Daar was die laaste tyd heelwat bespiegeling in die nuus oor die regering se bereidwilligheid om gehoor te gee aan akademici se pleidooie. Hulle staan moedertaal­onderrig in ons skole voor.

As ons die leerders se uitslae in veral wiskunde en wetenskap wil verbeter, is dit vanselfsprekend dat daar toegesien moet word dat hierdie vakke in hulle huistaal aangebied word.

Ouers en leerders moet bewus gemaak word van die beperkinge wat ontstaan as kinders nie in hulle huistaal onderrig word nie. Hulle moet weet kinders sal waarskynlik nie tot hulle volle potensiaal ontwikkel as hulle in ’n tweede of derde taal onderrig word nie.

Ons sien Afrikaanse skole is aan die kwyn.

Engelse skole verrys soos paddastoele omdat ouers verkies dat hulle kinders in Engels onderrig ontvang.

Hulle besef nie die skade wat hulle die kinders berokken nie.

Ek wil dus ’n pleidooi lewer dat Engels nie as die alfa en omega of die sleutel tot ’n beter toekoms voorgestel word nie. Meertaligheid is. As die moedertaal goed vasgelê is, sal ’n tweede en derde taal makliker volg.

Ons laat die jeug in die steek in ons poging om almal te verengels. Ons dink dit sal ons land ekonomies vorentoe neem. In der waarheid word ’n groot groep in hierdie proses gemarginaliseer en benadeel.

Wat beteken dit om gemarginaliseer te word ten opsigte van die taal wat jy praat?

Volgens die woordeboek is dit die proses waardeur iemand verstoot, minder belangrik geag en hulle begeertes en behoeftes geïgnoreer word. Om ons jeug hoop vir die toekoms te gee, moet die waarde van moedertaalonderrig beklemtoon word. Een taal moenie belangriker as ’n ander geag word nie.

Kom, laat ons almal saamwerk in belang van ons jeug. Dis ’n kosbare segment van ons land.

Merlyn van der Rheede

Projekbestuurder: Afrikaanse Taalraad

Son op Sondag nooi jou, die leser, om oor enige kwessie jou mening te lug. Organisasies is ook welkom om ’n bydrae te lewer. Skryf by nuus@kaapseson.com aan Son op Sondag: Maak Jou Stem Dik.

Son op Sondag behou hom die reg voor om skrywes te redigeer en nie dié te plaas wat lasterlik is of enige vorm van diskriminasie aanraak nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters