4 maande gelede
Here se army bring redding

DIE mense van my township doen nog opelugdienste ... so ook menige plattelandse dorpie se mense. Ek verwys na hulle as die #Prayer­Warriors.

Die musieke word eers opgestel. Die klank word getoets...

Dan staan almal nader. Natuurlik word daar eers koortjies gesing om die gees van die oomblik reg te kry.

Die klank trek so duidelik soos donderweer deur my township. Wie ’n oor het om te hoor...

En al wil jy ook nie luister nie, die musiek is te aansteeklik en die worship leader sing so nagtegaalmooi dat jou ore hulle vanself spits.

“Jesus Kom in die Môre”, “Lion of Judah”. Ope lug, my boeta, ope lug kom met die gees, my maat. Selfs die druglord hettie ’n way om te escape nie. Niks veroordelends nie. “Remember, someone is praying for you.”

Die boodskap is duidelik: Ons moet die mense van ons townships red van ondergang. Red van armoede. Red van dwelmmiddels. Red van wanhoop.

Want kyk, dié prayer warriors preek met soveel passie, dit dring regtig jou harts­kamers binne. Hulle preek die trane uit jou oë uit.

Daar word getuienisse gelewer wat selfs die mees geharde misdadiger tot inkeer kan bring. Oorlat daai mense op ’n tyd ook daar was waar die wêreld hulle verorber het. Ingesluk het. Dis mense wat getuig uit ervaring.

“Baie diep haal Hy my uit...” het hulle daardie aand gesing. En elke emosie is vasgevang in die mense van my township.

Gemeenskappe suffer ’n helse hou. Wanhoop vier hoogty. So ook werkloosheid, huisloosheid, ouerloosheid, losbandigheid, sieklikheid...

Die struggle van die prayer warriors is een van daardie veldslae wat erger was as enige van Napoleon s’n.

Die mense noem hulle “happy clappers”, het ek gehoor. Enniehouw, hierdie Anglikaan is mal oor die happy clappers oorlat koorsang en jamming en “rallying around God’s Throne” – daai dans waar hulle so ál in die rondte hardloop en fluit en die Here lofprys – salf vir die siel is.

Satan bewe. Satan kan nie anders nie. Of jou Satan drank of tik is, en of dit die feit is dat jy nie geld het nie. Al daai Satans bewe onder die hallelujas van die opelugdienste van die prayer warriors in my township.

Meegevoer. Weggevoer. Dis hoe jy voel as jy daar op jou stoep sit en luister. Jy voel lus om die opelugdiens te gaan join. Die Gees moet jou egter lei – só laat die diens­leier van die opelugkerk jou gou verstaan.

Dan word die preek weer onderbreek met “Kom ons sing daai koortjie ‘Be Still and Know’,” en jy weet daar gaan nou diep gebid word.

Die miracles van die twee broodjies, Jaïrus se dogtertjie, die blinde man van Jerigo, kreupeles wat weer loop...

Jy weet dis net die Groot Geneesheer se hand, maar dis die prayer warriors wat die speelveld skoonmaak.

Die mert is sommer nie meer lus om te mert nie. Die abuser wil nie meer abuse nie. Die dief is nie meer lus om te steel nie.

Want sien, die prayer warriors in die opelugdienste maak seker die klank is so hard, die preek en koortjies sny so diep, jy is skoon doof vir die verkeerde dinge van die lewe!

Soos Miss Clara in die fliek War Room bid: “Lord, raise up an army of believers.”

Kom ons saloet die prayer warriors in ons townships ...

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters