13 dae gelede
Geskenk roer hart se snare

GESKENKE kan soms net uit gewoonte gegee word. Nie dat enige iemand natuurlik die spreekwoordelike gegewe perd in die bek sal kyk nie.

Maar soms kan ’n geskenk nogal die hart behoorlik op alle silinders in ál vier hartskamers laat loop.

Soos daardie Saterdag toe ek ’n geskenk gekry het wat ek regtig nie verwag het nie. En dit het eerlikwaar niks met die prys van die geskenk te doen nie.

Daai dag toe ek die pragtige skitterblou­ sakkie met die wit handvatsel in ontvangs geneem het, was dit die uwe se verjaardag.

’n Klein wit kaartjie was aan die sakkie vasgemaak en die skenker se naam was in ’n netjies en bekende handskrif op die kaartjie geskryf.

Maar dit was eers nadat ek die geskenkpapier afgehaal het dat ek kon sien dis ’n boek.

Net nóg ’n boek, het ek daardie oggend gedink.

Maar dadelik het ek dankbaar gevoel omdat daar iemand was wat aan my gedink het. En wat weet dat ek lief is vir lees. Nie enige boek nie, maar boeke met ewigheidswaarde.

Dit was die boek se titel wat my daardie dag aan die dink gesit het. En met ’n titel soos The Bible in 366 Days for Men of Faith was ek aangenaam verras.

Wow, die skenker dink ek is ook een van die “men of faith”. Wat ’n kompliment vir my op my journey van geestelike groei! Wat kon ek gedoen het om haar só te impress dat sy my as ’n man van geloof beskou?

Wel, as jy vir drie dekades in mekaar se geselskap is, dan moes dit seker gebeur het. Want dis soos die skryfster Audrey Blignault in haar boek Die Rooi Granaat skryf, of soos Spreuke ons leer: “Yster slyp yster, so slyp die een mens die karakter van ’n ander ... vriende vorm mekaar.”

Vir haar is ek ook ’n vriend... Oor die jare kon ek my geloof in my Skepper, ons Skepper, toon sodat dit ’n indruk op haar moes maak.

Ek het deur die boek geblaai en was geroer deur verskeie notas daarin. Vir ’n beter boek, beter bevestiging van my geloof, kon ek nie gevra het nie.

Daardie dag het ek begin uitsien na die journey van 366 dae waarop my geloof verder gaan groei, wetend dat dié geskenk kom van iemand na aan my hart op wie se lewe ek ’n blywende indruk kon maak.

Is dit dan nie enige ouer se droom om sy of haar kinders in die vrees van die Skepper groot te maak nie? Sodat hulle ware geloof en diep gewortelde faith in hul Skepper het en in dít wat hulle in hul ouerhuise geleer het.

Die wêreld daar buite is woes en genadeloos. Daarom moet daar iets wees om aan vas te hou in die storms van die lewe.

Daar was tye in ons lewe dat die lewenstorms die lewensbootjie waarin ons saam gevaar het, in gevaarlike situasies laat beland het. Dis dan wanneer “faith” ons deurgedra het.

Bo en behalwe die feit dat sy my as ’n man van faith gesien het, het ek haar later in die dag só bekyk en gedink: Is dit nie wonderlik dat ek ook geloof in haar, of op haar lewe, afgedruk het nie?

Dat sy ook ’n geestesreis op haar eie het waarop “die een slyp die ander” so ’n massiewe rol kon speel dat sy presies geweet het wat sy as geskenk vir haar pa kon gee. Dankie vir ’n wonderlike geskenk, Lynn!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters