9 maande gelede
Feestyd bring die verlange
HERINNERING: Die skrywer peins oor Quintin Snell, ’n goeie vriend wat te vroeg weggeruk is.Foto: FACEBOOK  ~ 

MET elke Desember is my gedagtes by jou; dit was juis in die feestyd dat jy ons verlaat het.

En dít is hoe ’n tyd van vreugde in ’n tyd van pyn verander het.

Die nuus was so skielik en onverwags dat dit nie onmiddellik by my wou insink nie.

Daar moet iewers ’n misverstand wees, het ek geredeneer.

Dit kon mos onmoontlik jy wees wat weg is.

Ons het dan afgespreek om vroeg in die nuwe jaar bymekaar te kom om ’n paar van jou opwindende pro­jekte te bespreek.

Tog was dit die waarheid.

Jou broer sou my nie onnodig bel of iets so verskrikliks uit sy duim suig nie. ’n Mens speel mos nie met die dood nie.

Ek kon die seer in sy stem hoor. ’n Oomblik lank was ek stom en het ek nie geweet wat om te sê nie.

Ek het gebewe van skok, soos iemand wat koud kry.

Hoekom jy? het ek gevra.

Hoekom nie iemand anders nie?

Jy was dan nog so jonk, so lewenslustig en vol toekomsplanne.

Stadig maar seker­ het ek dit begin aanvaar.

Die trane het laat in die nag gekom.

Die huis was grafstil en ek kon nie slaap nie.

Jy was ál waaraan ek kon dink.

Ek kan my net voorstel hoe swaar dit elke jaar vir jou ouers moet wees.

Op Kersdag is jou sitplek aan die tafel leeg.

Gebeur dit soms dat jou ma ’n ekstra bord uithaal en weer bêre wanneer sy opnuut besef jy is nie meer daar nie?

Dit is die sesde somer sonder jou. Waarheen vlieg die tyd?

Dit voel soos gister toe ons kennis gemaak het.

Ek was Sondag vir die eerste keer in ’n lang ruk karaoke toe.

Ek het net twee songs gesing en weer na jou verlang.

Dit was juis by ’n karaoke in Goodwood waar ons mekaar die eerste keer ontmoet het. Sal ek dit ooit vergeet?

Ons het vriende geraak en jy het my vertel van jou drome om jou eie liedjies op te neem.

Toe eers het ek besef hoe talentvol jy werklik was.

Hoe trots sou ek nie gevoel het om een van jou komposisies oor die radio te hoor nie, want dit was waarheen jy gemik het.

Die engel van die dood het egter ’n stokkie voor ál jou mooi planne kom steek.

En natuurlik is daar steeds al die waaroms wat nooit beantwoord sal word nie.

Die pyn raak dalk ligter, maar die verlange bly.

Jy was ’n vrede­liewende mens en tot vandag glo ek nie jy het verdien om so wreed aan jou einde te kom nie.

’n Skrale troos is darem dat jy ontslae is van hierdie wêreld vol geweld.

Ter nagedagtenis aan jou wens ek dat vriende en families dié Kersfees tyd maak vir mekaar.

Kom ons los die gejaag en raak rustig. Ons moenie ons neus vir die minder­bevoorregtes optrek as ons finansieel beter daaraan toe is as ’n ander nie, want alles kan in ’n oogwink verander.

Dit is juis die tyd om uit te reik na iemand in nood.

My vriend, jy was ’n people’s person met ’n goeie hart.

Mag jou siel in vrede rus.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters