15 dae gelede
Dit keer dat kind krepeer

MY HELE intensie was om oor die corona-krisis te skryf, maar ek besef toe dit is nou al ’n holrug geryde onderwerp.

Toe ontvang ek dié video-clip op WhatsApp ...

Dit is ’n video van ’n ma-beer wat teen ’n hoë sneeuduin uitklim, met haar welpie agterna.

Die ma bereik die kruin met gemak, terwyl haar kleintjie sukkel om bo uit te kom.

Telkemale gly die welpie halfpad tot onder. Dan sukkel hy weer boontoe, waar die ma geduldig wag.

Ná vele pogings besluit die welpie om die maklikste roete te volg – ál in die ma se voetspore tot bo.

Maar daar wag ’n skok op hom. Die ma is nie tevrede met sy poging nie en jaag hom terug na onder.

Dit is amper asof die ma sê: “My kind, gebruik jou eie krag om bo uit te kom in die lewe!”

Uiteindelik bereik die welpie die kruin op sy eie, die ma is tevrede en hulle twee sit hul tog voort.

Dit is ’n ingebore instink by diere om hul kleintjies só groot te maak dat hulle eendag op hul eie in die natuur kan oorleef.

Die video-clip het my laat dink. Wat as ons as mense by die diere daardie belangrike lewensles kan leer en dit aan ons kinders oordra?

Sal dit dan nie van die wêreld ’n veel beter plek maak nie?

So ’n rukkie gelede het ek ’n kortverhaal geskryf genaamd “ ’n Joppie vir Boeta”.

Daarin vertel ek die storie van ’n enkelmoeder wat feitlik alles vir haar laitie doen. Sy tel selfs sy klere agter hom van die vloer af op.

Sy grootwordjare was dus maklik.

Maar toe hy groot is, het hy geen verantwoordelikheidsin nie en hy weier om te werk.

Ek beeld hierdeur die wrede werklikheid uit van wat gebeur as ’n ouer nie sy of haar kind van kleins af leer om eendag op sy of haar eie bene te staan nie.

Oral op die straathoeke sien ons die produkte daarvan.

Jy kry school dropouts omdat baie kinders nie meer geleer word om die druk by skole en groepsdruk te hanteer nie.

Heelparty jong mense faal omdat hulle nie van kleins af geleer is om die stampe en stote in die lewe te absorbeer nie.

Aan die einde van daardie video-clip staan: “Keep going – tough situations build strong people in the end.”

Dis beslis ’n belangrike lewensles wat ons as ouers aan ons kinders kan oordra, want … it’s a jungle out there, where only the strongest will survive!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters