Verlede maand
Dis mos nou hospitaliteit

EEN van die onaangenaamste dinge wat in ’n mens se lewe kan gebeur, is wanneer ’n bejaarde ouer siek word of afsterf.

Veral as die ouer sy of haar lewe aan die kinders, familie en geliefdes gewy het. Tog is dit die lewensverloop, en dis onafwendbaar.

So ontvang ons onlangs die skokkende nuus dat ons geliefde moeder se been afgesit moet word weens gangreen veroorsaak deur diabetes.

Dis ondenkbaar dat dié selfstandige vrou – die familie se matriarg – voort­aan van ons hulp afhanklik sal wees.

Nóg erger was die gedagte dat sy vir ’n onbepaalde tyd alleen in ’n hospitaal ver van die huis sal wees.

Sal sy in goeie hande wees? Sal die verpleegpersoneel mooi na haar omsien? Dít is die angsvrae wat in ons gedagtes gemaal het.

’n Mens hoor rillerstories oor wat pasiënte in hospitale oorkom. Jy bid en hoop dus die beste.

En wanneer dit nuus is dat ’n bejaarde vrou ure aan ’n bank in ’n hospitaal se wag­kamer vasgeketting was, sak ’n mens se hart in jou skoene.

Gelukkig het Moeder ’n foon. So, ons bly darem in kontak.

Die operasie is suksesvol en ondanks die pyn klink sy heel goed.

Ná dag 3 is die foon se battery egter klaar. So, ek bel die hospitaal twee keer per dag en word deurgesit na die vloer waar my ma versorg word.

Die ontvangsdame is vriendelik en beantwoord ál my kommerbelaaide vrae met die ver­sekering dat dit goed gaan met moeder.

Sy skakel my twee keer deur na ’n dokter wanneer sy onseker is oor iets. Soos toe ek vra vir medikasie wat my ma snags kan kalmeer, aangesien sy snags soms nogal onrustig kan word.

Toe praat ek toevallig met die dokter wat die amputasie gedoen het. “Natuurlik kan ek help,” sê hy. “Al wat ons doen, is ons amputeer die ander been ook.”

Ek het gelag en dit het my gemoed sommer gelig.

Só kontak ek die hospitaal daagliks en word op hoogte gehou van Ma se vordering, maar ook terugslae.

Toe word Moeder ontslaan. By die ontvangs word ons beduie hoe om by die saal uit te kom.

’n Skoonmaker groet ons vriendelik en gee ook aanwysings.

By ontvangs daar word ons weer vriendelik behandel.

Ons word versoek om ’n rukkie te wag, want die fisioterapeut wil ons spreek.

Dis al verby die personeel se uitvaltyd, maar hulle het spesiaal vir ons gewag.

Dit was om ons te wys hoe die rystoel en loopring werk en watter oefeninge Moeder moet doen totdat sy weer ’n fisioterapeut spreek.

Ons word ’n kitskursus gebied en word gemaan om tog nie alles vir Ouma te doen nie. “Sal nie,” belowe ons.

Die verpleegsters herken my toe ek Moeder die gang af stoot. Hulle glimlag breed en Ouma word gegroet en ’n spoedige herstel toegewens. Dit voel kompleet asof ons vertrek nadat ons by vriende of familie gekuier het.

My hart juig, want die Worcester Hospitaal se personeel in saal C2 het my vertroue in ons mediese personeel en my medemens herstel. Hulle tree professioneel op, maar makeer nie naasteliefde, warmte en omgee nie.

As die personeel van elke hospitaal in ons land tog net só kan optree ...

Aan die skoonmakers, ontvangs­dames, verpleegsters en dokters van die Worcester Hospitaal se saal C2 – ek saloet julle.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters