5 maande gelede
Die stand van nie-rassigheid
Jason Lloyd  ~ Verskaf

DAAR is versnellende stemme uit die bruin gemeenskap – billik of verwerplik – wat opgaan oor hoe problematies dit is hoe die ANC sy beleid toepas ten opsigte van dié gemeenskap.

Daar word gesê ANC-beleid sê niks van bruines se stryd teen apartheid en die verdediging, beskerming en verskansing van die begrip nie-rassigheid nie. Dat die ou apartheid-patrone van verdeling, toe elkeen veronderstel was om ’n identiteit te hê of toe elkeen op sy plek moes wees, weer toegepas word.

Teen die agtergrond van die politieke problematiek, die twyfelagtigheid en hindernis oor die begrip “bruin” as apartheid-term, nie as spesifieke kultuur, ras of etniese konstruk nie, plaas dit ’n mens in ’n hobbelrige posisie om dié gemeenskap intellektueel of wetenskaplik te begrond.

Ras kan nie wetenskaplik of biologies bepaal word nie. Daar is nie iets soos ras nie; net die menslike ras. Dit is hoekom die onderdruktes in die verlede aktief deelgeneem het aan die ondermyning van rasseteorieë.

Ek is nie sentimenteel oor die begrip “kultuur” nie, want dis ’n soepel begrip.

Hoe word kultuur geverifieer? Is daar ’n spesifieke formule of definisie? Kultuur manifesteer deesdae meer as globale konstruk as ’n stabiele faktor.

Daar word reeds vanuit die geledere van die konsekwente non-racialists of UDF-aktiviste geargumenteer bruines het in elk geval jare lank die geleentheid gemis om as tipiese kultuurgroep soos die Xhosas of Zoeloes te gedy.

Die bruin werkersklas, en spesifiek diegene op die Wes-Kaapse platteland, sal nie hiermee saamstem nie.

Etnisiteit is ’n breë begrip sonder spesifieke grense, maar tradisioneel word taal en kultuur as vereistes aanvaar om etnisiteit te konstrueer.

Wat etnisiteit betref, skiet bruines weer te kort. Konsensus ontbreek oor wat ’n bruin taal of etnisiteit is.

Verbeel jou die bruines word bekyk en begrond as politieke begrip. Neem byvoorbeeld bruines se deelname aan die eertydse Verteenwoordigende Kleurlingraad (VKR), driekamerparlement en (pro-apartheid-) Federale Kleurling-Volksparty se steun vir apartheid in ag.

Dit het die sentiment versterk dat ’n beduidende getal bruines kollaborateurs van die apartheidsregering was.

Prof. Richard van der Ross het dié sentiment met die stigting van die Arbeidersparty (AP) in 1965 as uitdrukkingsmiddel van die onderdruktes teen apartheid verwerp, maar die AP se latere deelname aan die driekamerstelsel (1984 tot 1994) het dié sentiment verder geïnternaliseer.

Wat ook problematies is, sê sommige UDF-aktiviste, is dat bruines se rol in die anti-apartheidstryd geringgeskat of heeltemal ontken word.

Dalk is daar ’n saak te maak vir sekere bruines se gevoel dat die eens generiese term “swart” binne die kongresbeweging wat met die stigting van die UDF in 1983 traksie begin kry het, net ? “moment” was en dat dit na bewering vervang is met “etniese chauvinisme”.

Dis ook ’n regverdige vraag om te stel – of nie-rassigheid dood is of ooit bestaan het, want die SA samelewing het in ’n mismoedige sin agteruitgegaan. Soveel so dat minderhede toenemend neerslagtig voel oor hulle besef hulle word weens ras of etnisiteit uitgesluit en tot ’n sukkelbestaan gereduseer.

Minderhede voel ellendig, al lê die Grondwet nie-rassigheid as waarde neer, oor hulle voel die samelewing is terug by die ANC se vroeë wortels as swart nasionalistiese party wat ras gebruik om net Africans te bevoordeel.

Oudpres. Kgalema Motlanthe het op ’n keer bevestig nie-rassigheid is nog ANC-beleid, maar het toegegee die party het dit nie geïnternaliseer nie. Ook: Nie-rassigheid word nie meer in die ANC se houding en uitsprake gereflekteer nie.

Die vraag is: Hoe gaan minderhede dié gevaarlike verskynsel aanpak?

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters