11 maande gelede
Die laaste bloedoffer?

IN AUGUSTUS het twee jong mans hulle lewe in die delwersgate naby Kleinzee in Nama­kwaland verloor.

Die tonnels waarin hulle vir diamante gegrawe het, het toegeval. Dié verhaal wys die tragedie van werkloosheid, wat mense dwing om te delf.

As boorling van Namakwaland vind ek hierdie ongeluk hartverskeurend. Die seer lê ook nog vlak in dié wat agter­gebly het.

Armoede is seker een van die grootste redes vir die onwettige delf van diamante in hierdie streek.

Ek het in een van dié stowwerige dorpies grootgeword. Versteek uit die menslike oog lê baie herinneringe weggebêre. Ek dink met nostalgie terug aan ’n tyd toe ’n mens nog eerbaar ’n inkomste kon verdien.

My oorlede pa was ? mynwerker by die De Beers-myngroep.

Ek onthou hoe die De Beers-werkers Sondae ná ete vertrek het. Ons kinders het kaalvoet agterna gehardloop totdat die voertuig uit sig verdwyn. Jy waai onophoudelik en kyk totdat jou oë seer word.

Op die dag van hulle terugkeer het ’n gevoel van afwagting geheers. Met die haan se eerste kraai was my ma al aan die gang.

Alles is blink gepoets. Die brood in die buite-oond was voor die middaguur op die tafel. Die reuk van laventel vloerpolitoer het in jou neusgate gehang.

Ek en my twee susters is blink geskrop. Ons hare is so styf gevleg, ons kon skaars glimlag.

Nie eens dít kon ons entoesiasme keer nie. Betaaldag was soos Kersfees.

Naby die tyd van hulle aankoms het ek altyd hoog bo in die boom voor ons huis gesit. Totdat ek die stofwolk op die rand van die koppies gewaar.

Dan het ek soos ’n besetene af­gespring. Eenkeer het ek in my haas om eerste daar te wees amper my bene gebreek.

My pa het nooit vergeet om vir elkeen iets te bring nie. Een keer het hy my met ’n hondjie verras. Dit was een van die gelukkigste oomblikke in my lewe.

De Beers was vir my ’n simbool van geluk. Ek het dit geassosieer met als wat goed is.

Vandag staan die delwersgronde verlate en onbeskut. ’n Skreiende kontras met die beelde wat ek onthou.

Namakwaland bloei. Wie gaan ’n stem word vir die zama-zamas, soos die mense hulself gedoop het?

Wat van die toekoms van Namakwaland en sy mense? Sal die tragedie van die twee jong mans lank in die geheue van die volk brand?

Laat die wroeging in hulle familie se harte nie verniet wees nie.

Laat hulle dood ’n simbool word vir die einde van die onwettige delwery. Laat ’n verdeelde volk weer een word.

Laat Namakwaland se ryk grond ’n baken van hoop wees vir die gene­rasie wat volg.

Namakwaland is ryk aan minerale. Ek glo daar is vir elkeen ’n plekkie in die son. Dat ’n kultuur van myn­bedrywighede nie verlore sal gaan nie.

En ek bly – saam met die res van Namakwaland – hoopvol dat die dood van hierdie twee jong manne nie vergeefs was nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters