Verlede maand
Diè ding eeue al 'n kopseer

DRIE Saterdae gelede ervaar ek iets buitengewoons in my tuisdorp.

Vir die eerste keer in 53 jaar sien ek nie ’n enkele dronk persoon op straat nie. Selfs nie eens die regulars in Kantienstraat, soos die hoek van Durban- en Le Sueurstraat in Worces­ter bekendstaan, nie.

My eerste reaksie was ’n Facebook post waarin ek gat daaroor gemaak het. Ná ’n mate van bepeinsing besef ek dat ek eintlik die dwaas is.

Drank-, dwelm- en nikotienmisbruik en -verslawing is so oud soos die eerste blanke nedersetting in dié land.

Dié verslawings het nie van nature gekom nie. Dis stelselmatig en doelbewus ingestel om deur bedwelmdgeid te beheer en te bedwing.

Orals in die wêreld was en is gevalle waar onderdrukkers dwelms en alkohol gebruik of probeer gebruik het om groot groepe mense onder dwang te hou.

Daar word beweer die CIA het in die 1980’s dwelms gebruik om sy ondergrondse operasies te finansier. Hy het na bewering van dié dwelms onder African Americans versprei om hulle passief te hou.

Sulke aantygings is ook in Suid-Afrika gemaak.

Dr. Lothar Neethling, hoof van forensics in die apartheidsjare, het voor die Waarheids-en-versoeningskommissie getuig hoe hy en onder andere Wouter Basson vir die weermag geëksperimenteer het met Mandrax, LSD en dagga om ontstoke rioters passief te maak.

Ek sal graag wil weet wat en wie die eerste persoon inspire het om dagga en Mandrax te meng en te rook.

Twee gevalle van hoe drank gebruik is om mense te bedwing en beheer staan egter uit.

In dr. Danielle Spiegler se boek Alcohol Use Among US Ethnic Minorities skryf sy hoe alkohol gebruik is om inheemse Amerikaners se weerstand teen wit oorheersing te verwoes.

Opsternaat

Etlike reisigers en skrywers sedert die laat 17de eeu skryf hoe slawe en Khoi-werkers die oggend voor werk drank ingejaag is en hoe daar gereeld twak aan hulle gegee is.

Van hulle skryf hoe opsternaat werkers en slawe was as hulle nie in die oggend hul sopie gekry het nie.

Dieselfde prentjie speel hom af deur vier eeue, insluitend die tyd toe slawerny in die land afgeskaf is, tot na bewering nóú, in ’n moderne, demokratiese Suid-Afrika.

Genoeg navorsing is gedoen oor die dopstelsel en dié euwel se effek op werkers en die breë gemeenskap.

Daar is genoeg hof­rekords in die argiewe wat toon hoe nie net slawe en die Khoi nie, maar ook Europeërs en ander, mekaar aangerand en uitgemoor het nadat hulle in totale dronkenskap verval het.

In die meeste gevalle het die geweldenaar en die slag­offer mekaar geken.

Weereens het die prentjie nie veel verander nie. Voor die lockdown was oormatige drankgebruik en dronkenskap die grootste oorsake vir geweld, aanranding, moord en poging tot moord.

In die meeste gevalle, soos deur vier eeue, het die geweldenaar en die slagoffer mekaar goed geken.

Gedurende die lockdown het die gevalle van aanranding, aanranding met die doel om ernstig te beseer, moord, poging tot moord en verkragting met 66% tot 86% afgeneem.

Dronkbestuur en ongelukke het ook drasties verminder.

Die effek van ongeveer 60 dae van nugterskap is verbasend. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het in 2016 navorsing gedoen wat toon Suid-Afrika is vyfde ter wêreld wat strawwe drankmisbruik betref.

Dié week kon ons weer vrylik drank koop. Ek is seker die hospitale se ongevalle-eenhede lyk landwyd weer soos ’n slagveld – iets waarteen die regering gewaak het.

Dit lyk my nie eens die Covid-19-pandemie sal ons van die ou normaal van stryk bring nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters