Verlede maand
Diabetes 'n erge siekte
Hypertension and diabetes can increase your risk of developing heart failure.  ~ Quinn Dombrowski / Flickr CC BY-SA 2.0

TOE my ma meer as tien jaar gelede met diabetes gediag­noseer is, het sy aanvanklik nie ? begrip van dié chroniese toestand gehad nie.

Nie in haar wildste drome het sy aan suikersiekte gedink toe sy skielik aan uitputting, oormatige dors en gewigsverlies ly nie.

Dis egter met ’n doktersondersoek dat haar toestand bepaal is.

Die aanpassing was moeilik, want nou moes sy skielik alles dophou wat sy eet. Sy moes keer om nie te veel suiker in haar bloedstroom te kry nie en daagliks haar suikervlakke monitor.

Wat my wel opgeval het, was die stryd om aanvaarding. Dit was die moeilike deel.

Gemoedstemming

Die res van die gesin moes onomwonde deel word van haar leefstyl. Die regte kosse moes berei word.

Alle nagemaakte suikers en gemorskos was vir almal taboe ten einde die aanpassing realisties en aanvaarbaar te maak.

Om jou hele lewe lank sekere soorte kos te geniet en skielik om elke hoek en draai gerantsoeneer te word, tas jou gemoedstemming aan.

Daar kom dae dat sy moeilik word. Ons laat haar toe om een of twee keer ’n maand iets buite haar eetplan te geniet.

Mettertyd het aanvaarding gekom. Vandag, ’n dekade later, besef ek ondersteuning is die beste vorm van omgee vir ’n diabeet. Jy wil weet iemand is bereid om saam met jou die pad te loop.

Dit is ’n siekte waaraan kinders én volwassenes ly. Daar is verskeie redes, soos vetsug, insulienweerstandigheid asook ’n familiegeskiedenis wat tot diabetes lei.

Die simptome waarsku jou vooraf. Wanneer jy vir meer as ’n maand dieselfde simptome ervaar, is dit tyd om dokter toe te gaan. Voorkoming is beter as genesing.

Dit is ’n chroniese siekte waarmee jy vir die res van jou lewe moet saamleef.

As dit nie doeltreffend beheer word nie, kan dit lei tot ernstige komplikasies soos nierver­saking, amputasie en beroerte.

Die beste manier is om op te lees en kennis in te win. Ek sien by my ma hoe die siekte haar soms onderkry.

Ek ken al die reuk van insulien wat aan haar vingers kleef.

Sommige dae is goed en ander sleg.

Haar gemoedstoestand wissel en sy ly dikwels aan depressie. Om soggens op te staan is ’n stryd.

Dit kos eers baklei voordat sy ’n voet verroer. En dikwels moet ek hoor: “My kind, jy sal nie verstaan nie.”

Dit is soms moeilik vir naasbestaandes om te verstaan wanneer iets eenvoudig, soos uit die bed klim, ’n einde­lose stryd geword het.

En dan is daar beter dae, wanneer sy haarself goed hanteer.

Soms voel dit ek word meegesleur in ’n stroom wat my laat wonder: Is daar hoop vir so iemand?

Die vraag wat ek telkens vra, is: Hoe kan ander die toestand van iemand se liggaam verstaan as hy/sy nie self in daardie persoon se skoene staan nie?

Wat ek wel kan deel, is dat diabetes ’n siekte is wat beslis nie ligtelik opgeneem moet word nie.

Die meeste diabete sterf weens ? hartaanval of beroerte. Vir ’n langer lewe moet jy ’n gesonde eetplan hê en jou bloedsuikervlak suksesvol beheer. Dis aan die einde ’n bittersoet stryd tussen lewe en dood.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters