3 maande gelede
Dapper digter help jeug nou
 ~ 

VIR skrywers en digters wat hul werke self uitgee, het ek die wêreld se respek.

Dis ’n kans wat hulle waag in die hoop dat dit sal slaag.

Nie net is daar druk- en ander koste aan verbonde nie, jy moet ook die bemarking op jou eie behartig. Jy het nie die luukse van ’n gevestigde uit­gewer wat bankvas agter jou staan en die proses gladder laat verloop nie.

Jy reël ’n bekendstelling iewers en hoop maar daar is genoeg belangstelling dat die publiek jou sal ondersteun en jou boek sal koop. Dis veral in sulke gevalle dat jy kan sien wie van jou vriende jou sal bystaan.

Tog glo ek niks kom naby daai warm gevoel wanneer jy die eerste eksemplaar van jou boek in jou hand vashou nie. Net om te weet jou droom het waar geword, is klaar ’n prestasie.

Die pad van ’n manuskrip tot gedrukte boek kan lank en uitputtend wees. As daar een persoon is wat nie toelaat dat enige iets in die pad van sy drome staan nie, is dit Hendry Kortjé.

Klink sy van bekend? Dit sal, want dié digter is die broer van die voormalige Idols-wenner Karin Kortjé.

Hy hou egter nie daarvan dat mense hul talente met mekaar vergelyk nie, want – soos hy sê – dit verskil hemelsbreed.

Karin is ’n diva wat gehore met haar engelagtige stem betower en hy is ’n woordkunstenaar. Hendry skerts hoewel hy noot kan hou, verkies hy om in die badkamer te sing omdat hy altyd liedjies se woorde vergeet.

Tot op hede het Hendry al drie digbundels die lig laat sien: Die Antie met die Vuil Kopdoek, My Lewe is in ’n Swart Haadkawweboek en Trane vir Jeevin.

Hendry waag ook af en toe sy hand aan kortverhale. Hy is juis besig met ’n speurverhaal waaroor hy nie veel wil verklap nie.

Ná sy eerste probeerslag, vertel hy, het hy besef daar is ’n mark vir sy gedigte. Dít het hom aangespoor om weer en weer te publiseer.

Een van sy doelwitte is om kinders weer ’n liefde vir lees te laat ontwikkel sodat hulle minder op hul selfone en tablets sal boer.

Vir ’n onbekende digter is dit bitter moeilik om ’n voet in die deur te kry. Om dié rede het Hendry in sy jongste bundel ses nuwelinge die kans gegee om hul stem te laat hoor.

Hy vertel trots Clare Anne­ Ward van Lavender Hill, Christeline Page van Delft, Celeste Thompson van Grabouw, Brian Bergstedt van Stellenbosch, Retha Kelly van Klerksdorp en Bianca Peteula Saayman van Ladismith maak hul debuut in sy nuwe bundel.

Dit het ’n ongewone titel: Queens en Kings Rondom ’n Ghellieblik in die Stofstrate van Geheue.

Hendry se gedigte is volgens my vars en oorspronklik. Hy doen sy eie ding en verkies om nie ander te na-aap nie. Ek het hom al uitgedaag om ’n bydrae vir Oom Sonnie te lewer en sien uit daarna om sy poging te lees.

Op die oomblik is Hendry ’n beoordelaar vir ’n skryf-en-digkompetisie wat op Facebook aangebied word. Hieroor klink hy baie opgewonde.

  • Nog besonderhede oor Hendry Kortjé se nuwe digbundel sal binnekort in die media verskyn. Queens en Kings Rondom ’n Ghellieblik in die Stofstrate van Geheue word op 16 Maart in Stellenbosch bekend gestel.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters