7 maande gelede
Daar is mag in vers, lirieke

NES die bekende Amerikaanse menseregte-aktivis Martin Luther King Jr. ’n droom gehad het, het ek ook ’n droom ...

My droom is dat ek my jong seun kan grootmaak in ’n wêreld vol liefde, vrede en harmonie. ’n Wêreld sonder geweldpleging, bendes en dwelms.

’n Wêreld waarin my seun sorgeloos met sy maatjies in die strate kan sokker speel en nie hoef bang te wees vir ’n dwaalkoeël uit die vuurwapen van ’n roekelose skollie nie.

Maar ongelukkig is geweldpleging deel van ons samelewing. Dit haal die voorblaaie van koerante en hooftrekke van radio- en TV-nuusbulletins.

Geweldpleging word ’n alledaagsheid in ons samelewing, en my grootste vrees is dat ons kinders dit gewoond sal raak. Gewoond in so ’n mate dat dit hulle nie meer sal afskrik nie, dat gru-moordtonele hulle nie meer nagmerries sal gee nie.

En gaan ons dan net hande gevou sit en toekyk dat geweldpleging ons gemeenskappe vernietig?

So, ek daag musikante uit om teen geweld­pleging te sing, digters om verse oor vrede te skryf, skrywers om die jeug op te voed teen die gevare van bendes en dwelms en kerkleiers en gemeenskaps­leiers om op te staan teen alle euwels.

Ek is in die gelukkige posisie dat ek ’n forum het – rubrieke en Oom Sonnie-stories – waarop ek my hart kan uit skryf teen dié euwel.

En my skrywes is meestal daarop gemik om jong mense op te voed, want hulle is ons toekoms.

As ons jong mense se mindset kan verander jeens die euwels van dwelms, gangsterism en geweld­pleging, kan ons uitsien na gesonde gemeenskappe.

Ek was einde November as ’n skrywer betrokke by ’n “Rise for Peace/Read for Peace”-veldtog in die Elsiesrivier-biblioteek, want ons is nou siek en sat vir die geweldpleging.

Dit het saamgeval met die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders. Ons was ’n groep skrywers, digters en sangers wat ons stemme dik gemaak het teen enige vorm van geweldpleging in ons gemeenskappe.

Onder die lot was die digter Diana Ferrus en die opera­sanger James Bhemgee.

Ek het die kortverhaal Dans vir Vrede spesiaal vir dié geleentheid geskryf en dit daarop voorgelees. (Dans vir Vrede verskyn vandag op die Oom Sonnie-blad.)

Dit gaan oor ’n jong seun wat sy vader verloor het weens bende­bedrywighede, maar nou ’n verskil in sy gemeenskap wil maak.

En só het ons almal uiting gegee aan ons droom vir vrede.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters