10 maande gelede
Boetie, ons onthou jou
Rus SAG: Edwin “Boetie” Abrahams was 52 jaar oud toe hy laas maand sy laaste asem uitgeblaas het. Foto: FACEBOOK  ~ 

VIR oorle Edwin “Boetie” Abrahams sal daar dalk nooit ’n monument opgerig word nie.

Sommige mense moet vir ewig lewe, want die lewe is pynlik eensaam sonder hulle. Maar soos Totius dig: “Die wêreld is ons woning nie.”

Die dood is elke huis se bruid of bruidegom. Ons moet een of ander tyd die tentwoning hier op aarde afbreek.

Gedurende die jaar het ek langs die grafte van geliefdes gestaan en met heimwee verlang na dit wat was en nooit weer sal wees nie.

Sommige van wie ek afskeid moes neem, was jonk en ander oud.

Daar by die begrafnisdiens hoor jy die prediker sê die dood maak almal gelyk. Oud en jonk, ryk en arm, goeies en slegtes; elkeen kry eendag sy rusplek onder ’n sandkombers.

’n Mens mis die water wanneer die put leeg is.

Daar langs die graf kyk jy in die bedroefde gesigte van mense vir wie dit moeilik is om die trane van herinneringe terug te hou.

Hoewel ’n mens jou soms probeer dapper hou en jou emosies wil uitsluit, kry jy dit nie reg nie, want jy voel die pyn.

Hier diep binne-in jou voel jy van voor af rou, want eens moes jy ook geliefdes groet en dit het seergemaak.

Wanneer die prediker uit Job 14 lees, laat dit jou verslae met meer vrae as antwoorde. “Die mens uit ’n vrou gebore, is kort van dae en sat van onrus. As ’n mens sterwe, sal hy weer lewe? Dan sou ek hoop al die dae van my stryd totdat my aflossing kom.”

Dis daar langs die graf dat ’n mens besef die lewe is net ’n asemteug lank.

Daar by die graf ontmoet ou vriende mekaar weer, groet en omhels, want ’n mens weet nooit of die geleentheid hom weer sal voordoen nie.

Dis daar by die graf waar ou vriende weer saam poseer vir ’n foto wat dalk eendag weer in herinnering geroep sal word.

Vroeër in die kerk is ’n slide show van foto’s vertoon.

Gesinsman. Jy sien dit duidelik waar hy met sy gesin staan.

Daar is min foto’s waarin sy gesin nie feature nie.

Jy sien hom as die eggenoot waar hy styf teen sy geliefde lewensmaat staan.

Jy sien hom as die pa waar hy gelukkig saam met die kinders glimlag.

’n Ma en pa se kind, ’n broer, ’n eggenoot, ’n pa.

Jy sien sy glimlag ... En wanneer die slide ­show verby is, kan jy nie help om beter te voel nie, want sy foto’s is sy prentjie-kommentaar op die wêreld­ se sorge.

Jy weet hy het dit nie maklik gehad in sy laaste dae nie. Jy weet die kanker het sy niere deurspek.

In die huldeblyke wat vele gelewer het, is die woorde “nederige mens” gebruik. Dis ’n raakvat-opsomming van sy lewenswyse.

Hierdie kranige gewese rugbyvleuel, spanspeler en leier sou liefs die bal vir sy spanmaat pass, want om die wêreld aan sy voete te hê, was nie belangrik nie.

Ek groet jou, Edwin “Boetie” Abrahams, jy was ’n groot gees!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters