9 maande gelede
Boeke bied idees vlerke

SO TWEE weke gelede sien ek iets wat ’n mens nie aldag in vandag se lewe sien nie ...

Ek ry een oggend so voor 08:00 in Haltweg, Elsiesrivier, op. Ek stop by ’n rooi verkeerslig en langs my trek ’n minibus-taxi op.

Voorin sit ’n jong meisiekind – ek skat haar so 13 jaar oud – in haar skooluniform kop onderstebo en verdiep in ’n boek.

Ek moes twee keer kyk, want ek kon dit nie glo nie.

Kykie, dit gaan mal daai tyd van die oggend in Haltweg: Bestuurders lê op die hooters, hulle vloek op mekaar en die taxi-guardjies hang halflyf by die taxi uit en skreeu uit volle bors: “Elsieees!!! Paroooow!!!”

Die taxi trek toe met skreeuende bande weg, maar die boekwurm skeur haar oë nie weg van die bladsy nie.

Dít is ’n toneeltjie wat my altyd sal bybly, want dit het my hart regtig vermurwe.

Ek meen, lees ons kinders nog in vandag se tyd? Hoeveel stel werklik nog belang daarin om fiksie te lees?

Destyds het my ma elke maand haar boeke van ’n boekklub, Leserskring, bestel.

Ek het haar boeke dan altyd gegaps en daar in die veld gaan lees.

Ek het my altyd ingeleef in die stories en my verbeelding vrye teuels gegee.

Dít het my liefde vir lees geprikkel en vandag kan ek my ryke verbeelding gebruik in my skryfwerk.

Nou, met hedendaagse tegnologie wat besig is om ons lewe oor te neem, lees ons kinders eerder Facebook pleks van ’n regte boek.

’n Paar jaar terug het ek by verskeie bib­lioteke op die Kaapse Vlakte navorsing gedoen oor leesgewoontes van kinders.

Ek het tot die ontstellende gevolgtrekking gekom dat kinders glad nie meer daarin belang stel om fiksie te lees nie.

Ek voel dis baie belangrik dat ons kinders móét lees.

Om goeie fiksie te lees is nie net goeie ontspanning nie, maar dit stimuleer ook die intellek en stel die leser bloot aan nuwe idees en konsepte.

Dit ontwikkel die brein en lê ook ’n goeie opvoedkundige grondslag.

So, ek raai ouers aan om betrokke te raak by hulle kinders en ’n liefde vir lees by hulle jong spruite aan te kweek. Daardie fondasie kan net in die ouerhuis gelê word.

Leer jou kind die belangrikheid van boeke en om te lees.

Vandag word dit as normaal beskou dat kinders nie lees nie.

Asseblief, laat ons daardie persepsie verander.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters