4 maande gelede
Bewapen kids teen boelies
boys fighting
Kinders moet van vroeg af geleer word dat boelie nie 'n opsie is nie.  ~ Foto ter Illustrasie / iStockphoto

OM ONDER 'n boelie se hande deur te loop, is seker een van die mees traumatiese ondervindings wat 'n mens kan ervaar.

Dit los dikwels meer letsels by die slagoffer as die oortreder. Dié tipe mishandeling is ’n alledaagse verskynsel onder skoolkinders.

Die laaste jare is daar ’n styging in boelie-video’s op Facebook.

Selfs video’s van meisie-boelies het die ronde begin doen.

Dit versprei dan soos ’n veldbrand en trend weke aaneen.

En wie kan nou die spektakel van die bollie-boelies vergeet?

Waar die arme slagoffer gedwing is om hondebollie te verorber terwyl dit op kamera vasgevang is.

Facebook het behoorlik gegons oor dié tipe gedrag. Jy kon die afsku van die publiek agterkom.

In die meeste gevalle gebruik meisies die tong om mekaar af te knou.

Baie vrae het ontstaan. Hoe kan sekere vroue hulle skuldig maak aan sulke gedrag? Wat van die slagoffers?

Hoe hanteer hulle die vernederende gebeure?

Vergeet ’n mens te maklik van een episode wanneer ’n ander een kop uitsteek?

Soos die onlangse een toe ’n tienerseun in ’n toilet aangerand is. Hy is soos ’n sak aartappels opgetel en teen die vloer neergeslinger.

Terwyl seuns op die agtergrond rondgestaan het, het niemand ’n vinger verroer om die arme outjie te hulp te snel nie. Die afknouer het oënskynlik sterker vertoon.

Die seun het sy bes probeer om die meeste van die houe af te weer deur sy hande beskermend oor sy gesig te plaas.

In geen stadium het hy ’n poging aangewend om homself te verdedig nie. Duidelik uit vrees vir die boelie.

Waar begin die tipe gedrag van boelies?

Kies ’n boelie ran­domly iemand om sy woede op uit te haal of ly die stiller, skamerige tipe gewoonlik daaronder?

Verskeie faktore kan die oorsaak van die afknouers se gedrag wees.

Sy agtergrond is dikwels een waarin mishandeling ’n groot rol speel.

Vir ander gaan dit oor mag of gewildheid onder vriende.

Fisieke aanranding is een van die algemeenste verskynsels onder boelies.

Maar dit is nie net die fisieke aanranding wat letsels by slagoffers agterlaat nie.

Die emosionele letsels bly vir jare agter.

Nagmerries en angsaanvalle kom dikwels voor en volg die slagoffer tot in hulle lewe as volwassene.

Dit beïnvloed boonop hulle verhoudings met ander en hulle verkies om alleen tyd deur te bring as in groepe.

Sommige ly aan depressie en angstigheid en moet dikwels op medikasie gaan om deur ’n dag te kom.

Slagoffers glo hulle sal nooit goed genoeg wees nie.

Vroeg

So, hoe kan hierdie probleem getakel word? Daar is baie veldtogte teen hierdie euwel in ons gemeenskappe. Maar is dit genoeg?

Dalk moet ’n mens al van vroeg jou kinders leer dat om ander te boelie, nooit ’n opsie is nie.

Ook nie om ’n slagoffer te wees deur stil te bly nie.

Die sade moet juis vroeg geplant word sodat jy as die ouer later die vrugte daarvan pluk.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters