5 maande gelede
BEURSriglyne te onduidelik
 ~ 

VERMITS dit bekend geword het dat die omstrede Jan Rabie & Marjorie Wallace-skrywersbeurs aan die bekroonde skrywer en digter Valda Jansen toegeken is, kan die beurskomitee gerus moeite doen om die riglyne waarbinne dié beurs toegeken word, begryplik aan voornemende aansoekers te verduidelik.

Dit sou gepas wees omdat dié beurs sedert sy eerste toekenning in 2010 aan die nou ontslape André P. Brink in omstredenheid verval het, want die toekenningsriglyne is obskuur omskryf en (na bewering) nie altyd konsekwent toegepas nie. Of kan die reëls van tyd tot tyd geplooi word om ’n bepaalde uitkoms in ’n spesifieke konteks te voed?

Kort op die hakke van die dubieuse Brink-toekenning is die land se grootste skrywersbeurs in nóg omstredenheid gedompel omdat dit agtereenvolgens in 2015 en 2017 aan ’n bekende Afrikaanse skrywersegpaar toegeken is.

Hulle is die vrouedigter Ronelda S. Kamfer (2015) en haar digterman, Nathan Trantraal (2017).

Die moontlikheid dat dié beurs in ver­dere omstredenheid sou verval omdat dit agtereenvolgens aan ’n bekende skryweregpaar toegeken is, moes tog by sekere lede van die beurskomitee opgekom het ...

Of het die sterkte van die aanbieding of motivering van hulle onderskeie skrywersprojekte die deurslaggewende rol gespeel? Óf was die agtereenvolgende toekenning van die beurs aan die getroudes blote toeval?

Die aanvanklike objeksie in 2010 is gevoed deur ’n mening dat die beurs nie aan so ’n gevestigde skrywer toegeken moes word nie. Die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), wie se departement Afrikaans-Nederlands die beurs administreer, het toe verduidelik dit is binne die reëls van die Rabie-Wallace-bepalings toegeken.

Dié skrywersbeurs – ter waarde van R430 000 – word uit die Rabie-Wal­lace-boedel gefinansier.

Rabie en Wallace het hulle veral bemoei met Afrikaans as taal van ’n breë gemeenskap. Reeds daarom was daar toe ’n gevoel dat die toekenning van dié beurs beskou moet word binne die konteks van veral Rabie se taalpolitieke nalatenskap.

So is daar ook toe die beurs bekend geword het, aanvaar dat veral ’n jong en ongepubliseerde Afrikaanse skrywer wat opkomend is en die geld broodnodig sou hê én wat ’n “Afrikaanse skryfkuns van ’n nie-akademiese aard” beoefen, die prys sou kry.

Belangriker nog moet dié skrywer (soos die reglement dit uitspel) “vry (wees) van die bekommernis(se) om ’n inkomste te genereer” oor die tydperk waarin die beurs toegeken word. Nog belangriker is dat die reglement geen melding maak dat ’n “gebrek aan ’n inkomste” enigsins as motivering aanvaar sou word nie.

Die verbasing en teleurstelling was groot toe Brink – wat toe al meer as 50 jaar lank ’n gevestigde skrywer was en vermoedelik finansieel sterk gestaan het – dié beurs gekry het.

Die vraag wat nou onwillekeurig by my opkom, is: Het die beurskomitee van Brink se beweerde finansiële verknorsing geweet? Was sy finansiële verknorsing dan ’n oorweging in die besluit om die beurs aan hom toe te ken? Of was meriete in Brink se uitgewerkte voorstel ál oorweging?

Oor die toekenning van die beurs aan Trantraal in 2017 het Tyrone Pretorius, rektor en visekanselier van die UWK, in 2017 in ’n verklaring nogal heel ironies geskryf: “Trantraal is wel nie ’n nuwe stem binne die literêre omgewing nie, maar soos met sy vorige werke sal ook dié een mense laat regop sit.”

Skoenlappers

So, ’n mens kan dus aanvaar indien Pretorius se verklaring (wat waarskynlik deur die departement Afrikaans-Nederlands vir die rektor geskryf is) reg gelees word en so bedoel is, dat veral ’n jong en ongepubliseerde Afrikaanse skrywer wat opkomend is, die prys sou kon kry of moes gekry het.

Reeds daarom is dit nodig om te noem dat ál die vorige ontvangers van die beurs – Brink, SJ (Fanie) Naudé, Willem Anker, Kamfer en Trantraal – nie-opkomende skrywers en glad nie nuwe stemme is nie.

Dit sluit Jansen in wat in 2016 met die roman Hy Kom met die Skoenlappers (Human & Rousseau) gedebuteer het. Dit is in 2017 met die Jan Rabie-Rapport-prys vir die beste debuut­fiksiewerk bekroon.

Dít laat dus nog meer vrae as antwoorde ontstaan oor die riglyne waarbinne die beurs toegeken word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters