2 maande gelede
Baklei saam teen groot K

EK HET die gedig hier onder geskryf met die dood van my niggie Mazaan.

Sy was ’n pragtige jong vrou met ’n toekoms wat nog oop voor haar gelê het.

Toe ontdek die dokters kanker is besig is om haar liggaam bietjie vir bietjie weg te vreet.

Stil, so kom jy,

suutjies.

So kom jy en breek,

ongenooid.

So kom jy en breek wat kosbaar is,

morsaf.

Jy gee nie ’n flenter om vir ras, ouderdom of geslag.

Ek haat jou hiér.

Ek haat jou wéés.

Ek haat jou ongevraagde hier-wees.

Stil, so het jy gekom,

van ons geneem, gebreek.

So, in die klank van vergaan en vergeet,

het jy gekom, geneem,

en ons harte in stukkies gebreek.

Dis Oktobermaand, en byna almal van ons ken die gedig van C. Louis Leipoldt waarin hy sê dis die “mooiste, mooiste maand”.

Oktober is egter ook die maand waarin ons elke jaar meer te hore kom van kanker.

Ja, kanker. Die siekte wat so baie geliefdes in byna elke familie stil bekruip en stilletjies wegskeur.

Oktobermaand is die maand waarin bewusmaking ten opsigte van kanker gedoen word. Die Kankervereniging van Suid-Afrika, Kansa, se tema vir dié jaar is “My Cuppa, my Story”.

Hiermee probeer hulle ’n platform skep vir kankeroorwinnaars en versorgers van pasiënte om hulle stories van hoop te deel met ander by wie dalk onlangs kanker gediagnoseer is.

Gemeenskappe word gemotiveer om betrokke te raak deur byvoorbeeld ’n byeenkoms te reël.

Dit kan as fondsinsameling dien waar ’n kankeroorwinnaar of selfs ’n versorger hulle stories kan vertel oor die reis vandat die nuus van die siekte ontvang is, hulle vrese en frustrasies, waar hulle nou is en hoe hulle elke dag aanpak.

Daar lê soveel krag in stories. Jou storie kan vir iemand anders ’n nuwe uitkyk op die lewe gee.

Ons het nodig om na mekaar se stories te luister – of jy siek is of nie. Sulke tye dat jy eerder na ander luister en nie net behep is met jou eie omstandighede nie, is wanneer jy besef daar is mense wat deur erger situasies as jy gaan.

Dalk is jy ’n pasiënt, ’n oorwinnaar of versorger. Dalk ken jy iemand wat aan kanker gesterf het.

Nooi ’n paar vriende en familielede en vier so sy of haar of jou eie lewe oor ’n koppie tee, en vertel jou of hulle storie. Dalk gee dit iemand hoop.

Vir enigeen wat met kanker leef of as jy ’n kankerpasiënt versorg, onthou – daar’s oral ondersteuningsgroepe.

Jy kan Kansa by 0800 22 66 22 tolvry bel of ’n e-pos na info@cansa. org.za stuur. Kansa bied ook veeltalige ondersteuning aan op WhatsApp by 072 197 9305. Verder kan jy met hulle kontak maak op Facebook, Instagram en Twitter.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters