3 jaar gelede
Wees lief vir mekaar en vergifnis sal volg
Foto:  ~ 

AUDI alterem partem…

Dis ’n regsbeginsel wat eenvoudig neerkom op “luister ook na die ander kant van die saak”.

In pastorale bemiddeling is daar eintlik drie kante aan ’n saak: syne, hare en die een wat God deur sy Heilige Gees in die hart van die bemiddelaar openbaar.

Dis dus belangrik om ’n saak van alle kante te beskou voordat ’n mens bemiddeling kan begin toepas.

Dit is eintlik vreemd hoe mense met oorgawe skinder, selfs wanneer die party wat beskinder word, nie meer betrokke is nie of dood.

Mense is geneig om sommer enige storie te glo, dit dan stertjies te gee vir sensasie en te versprei om die slagoffer se beeld te skend.

Verdedig

Wat daarna volg, is sommer ook voorstelle vir die “gepaste straf”.

Dié is dus summier skuldig bevind nog voordat hy of sy ’n regverdige geleentheid gebied is om hom of haar te verdedig.

Dalk moet ons mekaar ontmoedig om ander te beskinder as daar nie eens bewyse teen die slagoffer gehou kan word nie.

En selfs dan, al ís daar bewyse, moet ons ons weerhou daarvan om ander te beskinder.

Sulke skinderveldtogte veroorsaak nie net lyding nie, maar kan die slagoffer selfs tot selfmoord dryf.

Baie slagoffers van vals getuienisse sit onskuldig in die tronk of is onder kerklike sensuur geplaas.

Hulle is die slagoffers van omstandighede geskep deur hul prooi, die skindertonge; ellendig stukkend en verneder kwyn hulle nadat hulle vals beskuldig is.

God weerstaan diegene wat laster en vals getuienis lewer. Dalk moet ek dit reguit stel: In God se Paradys is daar nie plek vir skindertonge nie.

Die grootste gebod is dié oor die liefde; geen ander gebod oortref dit nie (Mat. 22:34-40).

Dat ons mekaar niks behoort te skuld nie, behalwe liefde, is wat God van ons vereis.

Oordeel

Jy moet God liefhê bo alles en jou naaste soos jouself. Onthou: Dis ’n voorvereiste dat jy jouself eers moet liefhê voordat jy ander enigsins kan liefhê.

God lê leuens bloot, so, jy mag niks doen nie, want jy mag nie oordeel nie (Rom. 12).

Sonder vergifnis horisontaal kan daar geen vertikale vergifnis wees nie (Mat. 6:14 en 15).

Duidelik kan ’n mens net vergewe word minstens tot die mate waartoe jy ander vergewe.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters