3 jaar gelede
Wees dié maand soos ware Bybelse vroue
 ~ 

SPREUKE 31: 10-13: ’n Knap vrou is baie werd, baie meer as edelstene. Haar man steun op haar en pluk die vrugte van haar werk. Sy bring vir hom net voordeel, nie nadeel nie, haar hele lewe lank.

So ’n ruk gelede het ek ’n lys begin maak van vroue wat in die Bybel opgeteken is. Ek het by Eva, Sarai, Haggai en Rebekka begin en die lys trek nou so by 35 vroue.

Uit die bietjie of min wat ek tot dusver kon navors en neerpen, kon ek baie leer en wys raak.

Hierdie Bybelse vroue was, net soos ons, eenvoudige mense wat ook maar foute begaan het, verkeerde keuses gemaak het, getwyfel het en moed opgegee het.

In die meeste gevalle het hulle egter sterker en as oorwinnaars of heldinne anderkant uitgekom.

Sarai was byvoorbeeld ’n hunkerende vrou en Jogebed was vindingryk. Ragab was in prostitusie vasgevang, maar haar verhaal vertel van ’n vrou wat durf gehad het.

Ons word daaraan herinner dat God almal raaksien. Hy kan selfs ’n prostituut ten goede gebruik.

Naomi word deur een skrywer “ ’n Vrou van smarte” genoem toe haar twee seuns ook sterf en sy alleen moes agterbly.

As ek dan nou terugkyk op my lewenspad van byna 50 jaar, besef ek dat die vroue met wie ek paaie gekruis het, net sowel Bybelse vroue kon gewees het.

Ek het ’n godvresende, biddende (en streng!) ma, wat die Here dien vandat ek my oë oopgemaak het.

By haar het ek goeie waardes geleer en dat daar nie grys areas is nie. Iets is óf wit, óf swart.

Dis óf reg, óf verkeerd, en daar bestaan nie iets soos wit leuntjies nie.

’n Leuen is ’n leuen en bly ’n leuen. My oorlede ouma sien ek nou nog in my geestesoog waar sy voor die stoof besig is om te bak en te brou, want sy het gesorg vir haar gesin.

Soggens vroeg tot saans laat – net soos die vrou in Spreuke.

So kan ek baie vroue opnoem. Daar is vroue wat nes die Siro-Fenisiese (Kanaänitiese) vrou ’n toonbeeld van geloof was.

Daar is die vrou wat aan bloedvloeiing gely het en haar weg na God deur ’n skare mense moes vind.

Sulke vroue ken ek. Vroue wat deur hul omstandighede gekniehalter word, maar steeds deur beur en hul weg na Jesus soek.

Kyk mooi na die vroue rondom jou. In elkeen van hulle is daar ’n Bybelse vrou. ’n Geseënde Vrouemaand aan elkeen!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters