3 jaar gelede
Ware seëninge lê tog nie in ons besittings
Foto ter illustrasie  ~ Verskaf

Johannes 15:1–4

Elke dag bevind ons ons onder moeilike omstandighede. Verskeie uitdagings kom op ons pad en die meeste van die tyd probeer ons net kop bo water hou.

Al wat die mens eintlik soek, is gemoedsrus en die versekering dat alles ten goede gaan uitwerk.

Ons werk hard om suksesvol te wees sodat ons die vrugte van ons arbeid kan sien.

Dan kan ons trots terugsit en weet ons het ons goed van ons taak gekwyt.

Ons maak ons kinders groot in die vrese van die Here. Ons vat hulle kerk toe, leer hulle om te bid en om die Bybel te lees – alles in die hoop dat hulle ook eendag God sal dien en daagliks sy aangesig sal soek. Maar ons het geen waarborg dat ons kroos Christus wel gaan volg nie.

Dieselfde geld vir huwelike. Ons gaan op huwelikskursusse en verskeie ander programme om ons huwelik te versterk en ons verhouding te laat floreer, maar ons het geen waarborg dat alles tog goed sal gaan ná hierdie ingrypings nie.

Maar daar is ’n God wat leef. Hy is in beheer en Hy waarborg dat as ons in Hom bly, alles ten goede sal uitwerk.

Ons moet gehoorsaam wees aan sy Woord en volhard met goeie werke.

Ons is geroep om deel van sy volk te wees. In Johannes 15:1–4 staan geskryf: “Ek is die ware Wynstok, en my Vader is die landbouer.

“Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra.

“Julle is reeds rein deur die woord wat Ek tot julle gespreek het.

“Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so sal julle ook nie as julle nie in My bly nie.”

Jy kan ’n goeie lewe lei, ’n goeie familie hê en vir mense wys jy gee om, maar as jy nie in God bly en sy gebooie gehoorsaam nie, beteken dit niks.

Alles met blywende waarde kan net deur God gedoen en vir God gedoen word.

Ware seëninge lê in jou houding en nie in die materiële dinge wat jy besit nie.

As jy Christus volg sonder teëstribbeling en sy gebooie gehoorsaam, sal jy alles kry wat jou hart begeer. Jesus is ’n Waarmaker van sy woord en wat jy ook al vra, sal Hy aan jou gee, maar net as jy in Hom bly soos Hy in jou.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters