4 jaar gelede
Vertrou volkome op God en moenie twyfel
 ~ 

MARKUS 10:46–47 – Jesus genees die blinde Bartimeus: “Daarna kom hulle in Jerigo aan. Toe Jesus en sy dissipels en ’n menigte weer daarvandaan verder gaan, sit daar ’n blinde ­bedelaar, Bartimeus. Toe hy hoor dat dit Jesus van Nasaret is, het hy begin uitroep: ‘Jesus, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my.’”

Hier word gepraat van ’n blinde man met die naam Bartimeus. Hy was ’n bedelaar en afhanklik van aalmoese wat mense hom gegee het.

Maar hierdie man moes op ’n tyd gehoor het van die man met die naam Jesus, die blink Môrester, die Seun van die Allerhoogste.

Hierdie man se begeerte was om weer te kon sien. Miskien het die wêreld en sy plesier soveel ongeluk vir Bartimeus ingehou dat hy vir ’n wyle vergeet het daar is ’n God.

So ook vandag in ons eie lewe is dit ’n gejaag na wind, want as dit goed met ons gaan, vergeet ons van God. Ons roep nie die Here aan in goeie én slegte tye nie. Maar hierdie man moes in sy swakheid Jesus aanroep.

Toe hy hoor van Jesus wat in die omgewing is, weet hy daar gaan baie mense wees, maar sy begeerte is om by Jesus te wees, die Geneesheer en Leermeester.

Ek kan my indink hoe hierdie man moes sukkel om by Jesus uit te kom.

Miskien was daar mense wat op hom getrap het terwyl hy aangesukkel het om by Jesus uit te kom.

Somtyds is ons as sondaars ook soos die blinde Bartimeus.

Maar wat vir my uitstaan, is toe hy uitroep na Jesus: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U oor my.”

Dit wil sê niemand het omgegee vir hom nie, maar Jesus sien sy hart raak. Jesus sien sy geloof en vra aan hom: “Wat wil jy hê moet ek vir jou doen?” Sy uitroep is: “Dat ek kan sien.”

Jesus sê vir hom: “Jou geloof het jou gered.”

Miskien gaan u deur ’n storm. God sê aan u geloof kan u red. God wil hê ons moet volkome ons vertroue in Hom stel en nie in sy krag twyfel nie.

Vandag wil God aan elkeen van ons sê: “Ek staan by jou hart se deur en ek klop.” Wie sal sy/haar hart oopstel?”

Wat sal jou uitroep vandag wees?

Here, ek wil soos klei in die pottebakker se hand wees. Vorm my soos U wil hê ek moet wees.

Laat ons uitroep vandag wees: “Here Jesus, seun van Dawid, ­ontferm U tog oor my.”

God seën u. Amen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters