Verlede maand
Vertrou Jesus: hy is nooit laat nie
 ~ 

JESUS sê toe: “Rol die klip weg.” Maar Marta, die suster van die oorledene, sê vir Hom: “Here, hy ruik al, want dit is al die vierde dag.” (Johannes 11:39)

Groete weer eens in Jesus se naam.

Familie en vriende, ek weet nie waar jy nou is en wat jy nou sien nie. Dalk staar jy voor jou uit en ál wat jy sien, is ’n klip.

Dalk roep jy al lank uit om hulp van Bo, maar ál wat jy sien, is ’n geslote deur.

Die situasie­ bly on­veranderd en die dae voel dalk lank. Baie lank...

Onthou net, Jesus is dieselfde en Hy is steeds altyd daar vir jou.

Jesus word ontbied om ’n baie siek Lasarus in Betanië te kom genees (Joh. 11).

Hy was waarskynlik in Galilea, maar talm. Teen die tyd dat Hy uiteindelik in Betanië aankom, is Lasarus vier dae gelede al dood.

Familie en vriende, ek weet nie of jou omstandighede al so lank sleg is nie dat dit ook al “ruik”.

Ek weet nie hoe lank jy al bid en om hulp vra nie, maar ek wil vir jou sê: Vir Jesus is dit nog nie te laat om jou te help nie.

Ek verklaar nou oor jou lewe dit maak nie saak waarmee jy worstel en wat jou verhinder om ’n deurbraak te maak nie.

Ek verklaar die steen word nou weggerol. Ek verklaar jy en elke lid van jou huishouding en almal wat tot jou verbind is, asook jou werk, gaan vorentoe.

Die getal vier dui op die seisoene: Ek verklaar nou dat ’n nuwe seisoen vir jou aanbreek en dat ’n vars aroma in die lug hang.

Elke steen word nou – ja, nóú. – weggerol. Ek verklaar, soos Lasarus opgestaan het, staan jy vandag op. Jy staan op.

Ek verklaar alles wat dood was, staan op. Ek verklaar nou dis jou dag om op te staan.

Mag die bries van verandering deur jou huis trek. Waar jy nou is, verdamp alles wat jou onder­gekry het – hartseer, swaarkry, armoede...

Groete en liefde.

  • Past. Alvin Olivier is van The Rock Fellowship in Kaapstad.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters