Verlede jaar
Streef eenheid na en frustreer duiwel só
Foto ter illustrasie  ~ 

FIL. 2:4: “Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n.”

Families is een van die duiwel se grootste teikens. Die duiwel weet as hy ’n familie teiken, sal daar nie eenheid tussen hulle wees nie. ’n Familie waar daar eenheid is, kan hy nie maklik onderkry nie.

Sodra daar onenigheid tussen families is, kom die duiwel makliker in. Dit is so hartseer om te sien hoe families jare lank kwaad loop vir mekaar en dan by begrafnisse mekaar vergewe. Moenie toelaat dat die duiwel jou van kosbare tyd met jou familie beroof nie.

Jy dink jy wen as jy kwaad loop vir ’n familielid oor ’n sekere ding, maar dit doen net skade.

Die duiwel geniet dit om toe te kyk hoe families vervreemd word ­teenoor mekaar.

Families gee nie net om vir mekaar in goeie tye nie, maar ook in slegte tye. En dit maak nie saak hoe daardie slegte tyd ontstaan het en wie daarvoor verantwoordelik is nie. Vat hande en lê alles by Jesus se voete neer en laat Hom toe om dit reg te maak. Vra God om julle die wysheid te gee oor hoe om na mekaar se belange om te sien.

As iemand iets slegs te sê het oor ’n familielid van jou, maak hulle stil en raai hulle aan om te bid vir die persoon.

God kan nie ’n familie seën indien hulle kwaad loop vir mekaar nie. Jy weet wat in jou hart aangaan en met wie jy dinge moet regmaak.

Gaan op jou knieë en vra God krag en leiding om reg te maak met dié wat jy verstoot en afgeskryf het. Dis net God wat ’n familie sterk kan maak as ’n eenheid teen die duiwel. Lank genoeg het jy toegekyk hoe die duiwel jou familie ­uitmekaar dryf en verwoes. Gaan op jou knieë en begin bid vir jou familie, ongeag wat die probleem is tussen julle. Die duiwel jubel en juig as ’n familie nie kan saamwerk nie, maar sodra ’n familie kan saamwerk, maak dit die duiwel moedeloos om teen so ’n familie te baklei.

Dit is nie altyd lekker om jou trots in jou sak te steek en eerste reg te maak met ’n familielid nie, veral as jy nie die verkeerde een was nie.

Wys dié keer dat jy beter is en vra God vir krag en wysheid om reg te maak wat verkeerd gegaan het tussen jou en jou familie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters