4 jaar gelede
stook maar die vuur van liefde gereeld
Foto:  ~ 

OPENBARING 2:4-5: Jy het my nie meer lief soos aan die begin nie . . . Keer terug na wat julle eers gedoen het.

Terwyl ek die ander dag ’n vuur aan die gang probeer kry en ek meer en meer hout moes opsit om dit uiteindelik te laat brand, het dit my laat dink aan my eie huweliksverhouding.

As jy jou verhouding aan die gang wil hou, moet jy dit – net soos met vuur – gedurig met hout stook.

Geen verhouding werk vanself nie. ’n Mens moet gedurig daaraan werk.

Toe julle mekaar ontmoet het, was dit blomme, etes, in mekaar se oor fluister, liefdesbriefies, in mekaar se oë kyk en lag vir mekaar se grappies. Ja, ons kon nie genoeg van mekaar kry nie.

Maar met die druk van die lewe, die kinders, werksverpligtinge ensovoorts, het baie van ons vure al begin kole word.

Die vuur self het ophou brand.

’n Mens kan gou sien as ’n paartjie se vuur flou geword het.

Hulle hou nie meer hande vas nie, drukkies is iets van die verlede, etes is in aparte vertrekke, hulle gee mekaar nie meer komplimente nie en hulle het niks meer om vir mekaar te sê nie.

Dis ’n gevaarlike plek om te wees, waar ons mekaar as vanselfsprekend aanvaar en waar die ander persoon nie meer spesiaal voel nie. Hoe baie van ons blus ook die vuur met ons tong, met gedurige verwyte, verkleinering voor ander mense en om altyd die verlede op te haal.

Enige vuurmaker weet dat jy nie kan wag vir ’n vuur om af te koel voordat jy nog hout opsit nie.

So kan ons ook nie wag vir jou verhouding om in die moeilikheid te wees voordat jy begin optree nie. Wanneer laas het jy jou geliefde geprys vir wat hy of sy goed gedoen het, wanneer laas het jy blomme gegee of as paartjie alleen sonder TV en kinders tyd by mekaar deurgebring?

’n Bekende Wes-Kaapse politikus het my so ’n paar jaar terug gesê hoe hy sukses nagejaag het, maar in die proses sy gesin verloor het.

Ons moet onthou dat geen mate van sukses by die werk of in jou loopbaan ooit sal kan opmaak vir ’n gebroke verhouding nie.

Februarie is die maand van liefde . . . geniet en waardeer mekaar.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters