3 jaar gelede
Sit net jou vertroue in ons Hemelse Vader
 ~ 

LUKAS 7:37-38: ’n Sekere vrou in die dorp, wat ’n sondige lewe gelei het, het gehoor dat Hy in die Fariseër se huis aan tafel was. Sy bring toe ’n albaste flessie met reukolie en gaan staan agter Jesus by sy voete en huil, sodat haar trane op sy voete begin drup het. Daarna het sy sy voete met haar hare afgedroog, hulle gesoen en met die reukolie gesalf.

Dit val my by dat daar ’n vrou was wat die voete van Jesus gesalf het in Lukas 7:36-38.

Die boodskap hieruit is duidelik dat haar lewe op een of ander manier radikaal verpletter was deur een of ander nagmerrie-ervaring wat haar doel en passie in die lewe heeltemal verander het.

Sy was op soek na iemand met ’n boodskap van vrede, van hoop, van herstel en van vernuwing.

Dit kon sy nêrens vind nie en het verneem van Jesus, wat op besoek was in die huis van Simon die Fariseër.

Geagte leser, laat my toe om met u te praat in ’n tyd van soveel onsekerhede en uitdagings wat ’n mens letterlik nie kan hanteer of maklik kan oorkom nie.

Die hoop vir elke dag is om ons fundamentele beginsels van geloof in Jesus as die antwoord nie te onderskat ten tyde van moeilike omstandighede wat ons nie kan hanteer nie.

Dit verg glad nie baie kennis en verstommende insig nie, maar eenvoudige geloof in die woorde van Jesus soos geskryf in Mattheüs 11:28. Sy woord bly die waarheid en het nie verander nie. Sy belofte is ja en amen.

Glo dit en vertrou Hom, wat belowe het dat hy getrou is om hierdie dinge vir jou te doen volgens Efesiërs 3:20.

God het die mag om dinge te doen ver bo alles wat ons bid of dink, maar net as ons die krag gebruik wat in ons werk.

Hierdie krag wat in ons werk, is geloof in aksie wat gevestig is op die dinge wat ons nie sien nie, maar aanhou glo.

Die geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie kan sien nie.

Daar was en is doodgewone mense soos ek en u wat die woorde van Jesus eenvoudig letterlik aanvaar net soos dit daar geskrywe staan.

Jy moet dit so aanvaar en glo.

Net soos die vrou met die albaste flessie moet jy jou voor God werp en alles aan hom oorgee en jy sal ’n oplossing vir jou omstandighede vind en jou vernuwe.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters