4 jaar gelede
Satan blus lus vir bid, want dit blok sy werk
Foto:  ~ 

VOLHARD in die gebed en waak daarin met dank­segging. – Kol. 4:2

Gebed is een van die kragtigste wapens wat ’n mens, veral ’n gelowige, teen die duiwel het.

Het jy al gewonder hoekom jy nooit regtig tyd of krag vir gebed het nie?

Dis omdat die duiwel ’n mens te besig hou en te moeg maak om met God te kommunikeer, want hy weet gebed werk teen hom.

Wanneer jy bid, moet jy God met jou hele hart vertrou en glo dat Hy jou gebede sal verhoor.

Jy kan byvoorbeeld nie verwag dat Hy jou sal genees terwyl jy twyfel nie.

Kyk wat sê Matt. 21:22: “En alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo.”

Die duiwel en sy demone veg daagliks teen ’n gelowige se gebedslewe.

’n Biddelose gelowige is ’n magtelose gelowige. Biddeloosheid is seker­lik die grootste aanklag teen die kerk van Christus.

Die hele week kry jy swaar, maar sodra jy Sondag in die erediens is, wil jy bid asof jy nie weer die geleentheid sal kry om dit te doen nie.

Gebed verg egter geestelike dissipline: Jy moet jou onderwerp aan God, jou inleef in jou gebede en standhoudend en gereeld bid.

Dis belangrik dat jy tyd inruim vir gebed en ’n lewendige en intieme verhouding met God handhaaf.

Om te bid totdat jy ten volle oortuig is daarvan dat jou gebed aangeneem is en verhoor sal word, is om “deur te bid”, al moet dit deurnag wees.

Eers dan sal jy begin voel jy sal ontvang waarvoor jy bid. Dié voorgevoel is die soort vertroue wat jy in God uit gebed sal put.

Die gedagte aan deurnag bid, skrik baie gelowiges af, maar één nag van gebed sal jou baie slapelose nagte spaar.

Om doeltreffend te bid, moet jy die Woord ken, dan kan jy God aan sy beloftes herinner.

Haal teksverse daaruit aan in jou gebede sodat die Woord lewend op jou lippe kan wees.

Wanneer ’n gelowige bid, word sy of haar hart sag en ontvanklik vir die stem van God.

Gebed verloor dryfkrag en doeltreffendheid wanneer ons dit vermoeiend vind en verslap daarin.

As ’n voorvereiste dat Hy gebede sal verhoor, stel God geloof in en gehoorsaamheid aan Hom.

Net diegene wat alles doen wat God hulle gebied en ernstig, voortdurend en gereeld tot hom pleit, kan vol verwagtinge “amen” sê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters