3 jaar gelede
Open jou hart vir die gees van God
 ~ 

EK BID dat God deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word (Efesiërs 3:16).

Dit is Paulus wat hier bid vir die gelowiges in die stad Efese in Turkye (toe Griekeland).

Hy bid dat hulle met die Gees van God gevul sal word tot innerlike versterking.

Met daardie krag sou ­hulle geanker wees in Christus se liefde en kan hulle daardie selfde liefde uitleef.

’n Mens kan aflei dat ’n gebrek aan liefde in ons lewe dui op ’n gebrek aan die Gees van God in ons.

Maar solank die Heilige Gees in ons lewe is, sal ons lewe ’n kragtige getuienis vir Jesus wees.

Ons nader nou weer Pinkster, en dis op my beurt die gebed van my hart dat ons opnuut gevul sal word met die krag van die Here!

Ook dat ons ons hart sal ondersoek en die Here sal vra dat Hy ons met sy bloed sal reinig van sonde.

Ek bring vandag, op Moeders­dag, ook hulde aan alle vroue wat ma’s is.

Dankie vir jul onvoorwaardelike liefde en ál die opofferings wat julle maak.

Ek bring hulde veral aan die enkelma’s wat so op hul eie ’n stryd voer om hul kinders groot te maak.

Julle is die “deugsame vrou” – waardevol, betroubaar, kosbaar . . . (Spreuke 31).

Uitstorting

Mag die liefde en vrede van die Here jul harte vul, sommer oor Pinkster ook.

Onthou, dis juis in dié tyd dat Jesus sy volgelinge be­lowe het: “Julle sal krag ontvang wanneer die Hei­lige Gees oor julle kom en julle sal my getuies wees . . .” (Handelinge 1:8).

Wat die uitstorting van sy Heilige Gees betref, tref God geen onderskeid tussen mense nie.

Of jy nou ’n huisvrou,’n prokureur, ’n student of werkloos is, jy kwalifiseer.

Die skrywer van Spreuke maan: “Dood en lewe is in die mag van die tong, en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet (18:21).

So, laat die Gees, wat ware lewe bied, vir jou spreek.

God het Dawid uit die veld ontbied om as koning gesalf te word. Van waar sou Hy jóú vandag ontbied om jou sy Gees te bied?

God wil hê jy moet vir sy Koninkryk werk – en ál wat jy nodig het vir die taak, is sy Gees.

Dis die Gees wat jou gedurende Pinkster sal versterk.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters