3 jaar gelede
Ons gaan nog lank verskil oor spanne
 ~ 

DIT is die Prediker wat in hoofstuk 1 vers 9 waarsku dat “wat was, sal weer wees, wat gebeur het, sal weer gebeur, daar is niks nuuts in hierdie wêreld nie”.

So is dit ook met die nimmereindigende bekgevegte oor ras en kwotas in ons sport – van Razzmatazz Mbalula tot miljoene selfaangestelde keurders van die nasionale sportspanne.

Die ras- en sportdebat kom ’n lang pad. Ons Suid-Afrikaners is glad nie so uitsonderlik soos ons dalk gedink het nie. En kwotas in sport bestaan al sedert die begin van die 20ste eeu toe die eerste Springbokke gekies is – nie omdat hulle die beste in SA was nie, maar net die beste in hul (wit) groep.

Rassediskriminasie in sport is universeel.

Hoekom vermaan Europese sokker vandag nog toeskouers en TV- kykers by elke wedstryd teen rassisme? Hoekom het Muhammad Ali – destyds Cassius Clay – sy wenmedalje van die 1960 Olimpiese Spele in die Ohio-rivier gaan gooi? Omdat die medalje wat hy met soveel trots vir sy land gewen het nie kon verhoed nie dat sy menswaardigheid geskend is toe hy toegang tot ’n restaurant geweier is omdat hy swart is.

Hoekom het die swart Amerikaanse atlete Tommy Smith en John Carlos op die wennerspodium van die 1968 Olimpiese Spele die swartmag-saluut gegee terwyl die Amerikaanse volkslied gespeel is?

In 1983 in ’n veelrassige Namibië het die haat op die rugbyveld wanneer oorwegend bruin spanne oorwegend wit spanne aandurf, groot kommer gewek. Soos met Madiba sewe jaar later was die geloof en verwagting ook destyds daar dat sport die dinamiese brugbouer sou wees wat mense vanuit ’n historiese periode van rasseskeiding weer bymekaar sou bring.

Maar hoe tragies het daardie brûe nie gebrand nie en lê die verwagtinge wat daarmee gekom het vandag op die ashoop van ras-gebaseerde vooroordele, kwetsende opmerkings en beskuldigings.

Dit 21 jaar ná Madiba se hand van vriendskap aan rugby, die sogenaamde “sport van die verdrukker”. En destyds moes ek in ’n artikel in die nuusblad van Western Suburbs, die oorwegend bruin klub van Windhoek, aan die Namibiërs probeer verduidelik hoekom sport dan nie die groot gelykmaker en die groot versoener is wat hulle gedink het dit sal wees ná hul onafhanklikheid en die implementering van gemengde sport nie.

En miskien is dit juis die begrip van gemengde sport, of dan veelrassige sport, wat ten grondslag van die ongelukkigheid lê.

Dit was onder leiding van ’n Hassan Howa, Yusuf Ebrahim en Frankie van der Horst dat die Sacos-credo van “geen normale sport in ’n abnormale samelewing” substansie gekry het. Die sleutelkonsep in die credo was nie-rassige sport teenoor veelrassige/gemengde sport.

Mense wat nie aan die ontvangkant van apartheid en apartheid­sport was nie, kon geen verskil sien tussen die twee konsepte nie, maar dit verskil was fundamenteel: die een kyk na ras en sê dat mense van verskillende “rasse” deelneem.

Die ander waak juis daarteen dat ras enigsins as ’n maatstaf gebruik word en sien alle sportlui net as mense wat gelykkansig kompeteer. Nie-rassigheid sou slegs beslag vind in ’n normale samelewing, d.w.s. waar almal gelykwaardig is en gelyke geleenthede het.

Waar ras geen rol speel nie sodat merietekeuse kan geskied sonder dat na kleur of regstellende aksie gekyk word.

Dit blyk dat ons weens gevestigde historiese agterstande nog lank nie ’n normale samelewing sal hê nie. Dit beteken ons gaan nog lank stry oor die samestelling van spanne.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters