Verlede jaar
Moenie net opgee as die storms begin woed
 ~ 

JESAJA 41:10: “Wees nie ­bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.”

Daar is iets wat my baie hartseer maak en dit is die gelowige se gebrek aan probeerslae.

Die moderne gelowige gee eenvoudig net op sodra die storms begin woed.

Vir maande en selfs jare dien jy die Here met alle erns en blydskap, maar sodra daar ’n storm kom, dan keer jy terug na die wêreld. Hoe hartseer is dit nie vir God en die mense rondom jou wat in jou begin glo het?

Sodra die storm jou teen die grond vasdruk, dan voel jy nou die enigste manier om daar op te staan is om jou rug na die Here te draai en terug te keer na die wêreld.

Is dit dan nie beter om die storm van voor af te sien aankom sodat jy jou gereed kan maak om daardeur te gaan? Want sodra jy jou rug na die Here draai, sal jy storms van voor en agter kry. Die storms wat van agter afkom is baie sterker en kan jou baie hard teen die grond platslaan. Ek wil elkeen, veral gelowiges aanmoedig om nie so gou moed op te gee nie.

Moet nooit ophou probeer nie en vra God vir sy wysheid en krag. Dalk sit jy met ’n probleem en elke keer probeer jy ontslae raak van daardie probleem, maar niks help nie.

Ek verstaan jy raak soms moedeloos, maar die een of ander tyd sal jy ’n oplossing kry daarvoor. Dit mag dalk soms voel jy word in ’n hoek vasgedruk en niemand gee om vir jou nie, maar God gee om. Somtyds laat God jou toe om jou eie foute te maak om jou bewus te maak daarvan dat Hy die een is wat foutloos is en nie jy.

Elke mens moet ’n passie ontwikkel om aan te hou probeer. Jou vriende, familie en Christelike familie mag nie dalk altyd jou probeerslae sien nie, maar God sien dit. Almal glo jy wil maar so wees, maar in jou hart het jy ’n begeerte om te verander.

Jy kan niks doen aan mense se opinies nie, jy moet net aanhou probeer. Die geheim is: moenie jou probeerslae laat verander in slegte gewoontes en verskonings nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters