Verlede jaar
Mens weet nie tyd op God se horlosie
 ~ 

1 TESS. 5:2: Julle weet self maar alte goed dat die dag van die Here onverwags kom soos ’n dief in die nag.

“Hoe sal ons weet die Here se dag is naby?” vra baie mense. Teen dié tyd weet julle al ons kan nie somme maak om uit te werk watter dag dit sal wees nie. Julle lees dan hier Hy sal soos ’n dief in die nag kom.

Baie mense sal nog sê: “Ag nee wat, alles is nog veilig. Ons kan maar leef soos ons wil; die Here gaan nie nou al kom nie.”

Maar wanneer Hy skielik op die toneel verskyn, sal hierdie mense van die pyn begin skreeu, nes ’n vrou wat kraam.

Dit sal niks help nie; niemand kan weghardloop van die Here se oordeel nie.

Gelukkig hoef ons as gelowiges nie bekommerd te wees nie. Ons sal nie onkant gevang word wanneer die Here terugkeer nie. Ons sal gereed wees, want ons leef in die Here se lig en het niks om weg te steek nie.

Die sonde is nie meer baas oor die gelowiges se lewe nie. Die mense wat niks met die Here te doen wil hê nie, is vas aan die slaap en het g’n benul hoe laat dit op die Here se horlosie is nie.

Ons moet deurentyd doen wat God sê. Anders is dit soos ’n slaappil; dit sus ’n mens aan die slaap sodat jy God nie kan sien of hoor wanneer Hy met jou praat nie.

Kyk na die mense om jou. Hulle steur hulle net mooi niks aan die Here nie.

Die Here het ons as gelowiges uit ons slaap wakker gemaak; in sy lig moet ons opreg met mekaar leef totdat Hy weer kom.

Broers en susters, julle moet asseblief nie onder mekaar stry en baklei nie; dit pas nie by die gelowiges nie. Praat Christene wie se geloof klein is moed in, vertel hulle van die Here se goedheid, steun dié wat nie mooi verstaan waaroor geloof gaan nie en wees geduldig met almal met wie jy te doen kry. Gee om vir ander gelowiges, en sorg dat julle reg lewe. Wees altyd dankbaar teenoor God, ongeag wat met julle gebeur.

Moenie julle doof hou wanneer die Gees met julle praat nie. Luister na sy stem. Laat Hy besluit wat julle moet sê, dink en doen.

Praat met die Here elke keer dat jy kan. Moenie moeg raak vir bid nie; Hy hoor. Christene moet mekaar vriendelik ontvang. Staan vas in die geloof. Wees geduldig met almal met wie julle te doen kry.

Mag ons wonderlike God en ons Here Jesus Christus so goed vir die gelowiges wees dat julle altyd op die regte pad sal stap. – Br. Bennie du Plessis, United Congregational Church, Saldanha

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters