10 maande gelede
Maak die woord van god jou gids
Foto:  ~ 

EN OP die derde dag was daar ’n bruilof in Kana in Galiléa, en die moeder van Jesus was daar.

En Jesus en sy dissipels is ook na die bruilof genooi.

En toe daar wyn kortkom, sê die moeder van Jesus vir Hom: “Hulle het geen wyn nie.”

Jesus sê vir haar: “Vrou, wat het Ek met u te doen; my uur het nog nie aangebreek nie.”

Sy moeder sê vir die dienaars: “Net wat Hy vir julle sê, moet julle doen.”

En daar het volgens die reinigingsgebruike van die Jode ses klipkanne gestaan, wat elkeen twee of drie ankers bevat.

Jesus sê vir hulle: “Maak die kanne vol water.”

En hulle het hulle tot bo gevul.

En Hy sê aan hulle: “Skep nou uit en bied dit aan die hoofdienaar.” – Johannes 2:1-7

Groete aan die lesers, families en manne en vroue van God.

Ek deel vandag graag met u die werklikheid en openbaring van die Krag in God se Woord.

Dié verhaal van Jesus wat water in wyn verander op ’n bruilof is baie bekend.

Dis een van die eerstes wat ’n mens as ’n kind in die kerk of Sondagskool gehoor het.

Die openbaring van dié skrif is dat Jesus en sy moeder,Maria, gaste is op ’n bruilof – of soos ons sal sê, ’n fees.

Eers word die beste wyn bedien, maar namate verrigtinge vorder, word wyn van ’n swakker gehalte bedien.

Dis in dié stadium dat dit opgeraak het en Maria aan haar Seun gesê het die wyn is op.

Onthou, in dié stadium het Hy ook nog geen wonderwerk verrig of selfs enigiets buitengewoon gedoen nie.

So, Sy totaliteit – wie Hy Is – is nog nie aan die mens geopenbaar nie en Hy het ook self niks aan enigiemand bekend gemaak nie.

Tog beveel Sy ma die dienaars om te doen net wat Hy hulle aansê om te doen.

My geliefde leser, Jesus sê hulle toe aan om kanne water wat eenkant gestaan het, met water te vul.

Hulle doen dit, en sonder dat hulle dit agterkom, verander die water in wyn.

Een bevel verander die nood.

Ál wat u nou nodig het, is net een bevel van God.

Ek bemoedig u vandag deur te sê een bevel genees siekte, voorsien in behoeftes, verlig droogte, los probleme op...

’n Totale deurbraak. God Spreek een bevel: “Laat daar Lig wees.” En daar was.

Vandag verklaar ek in die Naam van Jesus Christus lewe oor jou finansies, huisgesin, familie, gesondheid,werk, bediening, gemeenskap...

Ek breek oor u lewe elke struikelblok wat u verhinder om God se Woord te glo en na Hom uit te reik.

Jou gids tot ’n voorspoedige lewe in God is Sy Woord.

In Jesus se Naam.

Amen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters