4 jaar gelede
Lydenstyd is die tyd om jou aan god te wy
Foto:  ~ 

MARKUS 1:12-13: Net daarna het die Gees Hom weggevat die woestyn in, waar Hy 40 dae lank gebly het en deur die Satan versoek is. Jesus was daar saam met die wilde diere, en die engele het Hom versorg.

Liewe vriende, ons bevind ons tans in Lydenstyd 2016 – ’n baie ernstige tyd volgens die liturgiese kalender van die Christelike kerk.

Ons identifiseer met Christus en sy tyd van 40 dae in die woestyn waar Hy deur die Satan versoek is.

As kerk van die Here en Christen-gelowiges word ons herinner aan die 40 jaar dat die volk van die Here in die woestyn geswerf het.

Dis 40 jaar om ’n reis te voltooi wat gewoonlik binne twee weke per voet voltooi kon word.

Ons noem die tyd van die volk van God in die woestyn die tydperk van die Diaspora (wat “verstrooiing” beteken).

’n Woestyn is ’n onvriendelike omgewing met waterskaarste en uiterse klimaatsomstandighede.

Uitermatige hitte bedags en snerpende koue in die nag word onderbreek deur gereelde verwoestende sandstorms wat deur orkaansterkte winde veroorsaak word.

Ons leer ook dat Jesus in die woestyn deur Satan versoek is. Hy is gevra om klippe in brood verander om sy honger te stil.

Die koninkryke van die hele wêreld is Hom aangebied en ook is Hy deur Satan self versoek om van die hoogste punt van die tempel te spring omdat daar geskywe is dat die engele Jesus sal bewaar en selfs nie ’n rots of klip sy voete sou tref nie.

Smalend het Satan hier Psalm 91 aangehaal. Let wel: Satan ken ook die Skrifte. Jesus het hom elke keer op gesag van sy kennis van die Skrif op sy plek gesit.

Die Lydenstyd is ’n tyd van diepe nadenke oor my eie posisie en ’n nuwe kans om my aan God toe te wy.

Dit is ’n tyd van vas en refleksie na binne. Is jy tans vasgevang in jou eie woestyn . . . jou eie Diaspora?

Kom na Jesus toe. Hy kan jou ’n wolkkolom bedags aanbied en ook ’n vuurkolom in die nag.

Maak Lydenstyd 2016 die tyd waar jy ware vriendskap met God in Jesus Christus sluit!

Vriende, ons is in die middel van Lydenstyd 2016. Baie mense is diep ernstig oor vas en gee sekere gewoontes prys vir die tydperk van 40 dae. Wat gebeur daarna?

Die vraag is: Wat gaan u maak met Jesus en besef u dat Hy waarlik die Seun van God is en die enigste manier om by die Vader uit te kom?

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters