Verlede jaar
Luister na God en laat hom jou geestelik lei
 ~ 

JESAJA 30:21: En jou ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop!

Dit is nie lekker as jy by ’n kruispad kom en nie weet watter kant toe om te gaan nie. Dalk was jy al by ’n kruispad en moes kies tussen God se weg en jou weg.

Mense verlaat hul geestelike bestemmings omdat hulle nie meer wil uithou op God se weg nie.

Ja, dit is soms baie uitdagend, maar dit is die moeite werd.

Net wanneer God jou ’n deurbraak wil gee, dan gee jy moed op en volg jou eie weg.

Dit is hartseer om te sien dat goeie mense se lewe sleg uitdraai weens verkeerde keuses.

Dit is nie ’n skande indien jy dalk op ’n tyd verdwaal het van jou geestelike bestemming nie. Solank jy dit weer vind.

In so ’n tyd het jy natuurlik ’n padkaart of goeie vriend nodig wat jou weer op die regte pad kan bring.

Die Woord van die Here is die beste padkaart in so ’n situasie en Hy is ook die beste vriend wat daar ooit sal wees. Iemand wat omgee en net die beste vir jou wil hê.

Hy sal jou die beste rigting wys om weer te kom by jou geestelike bestemming.

Dalk het jy op ’n tyd die Here gedien en so goed gevoel om in Sy teenwoordigheid te wees.

Vandag is jy egter ver weg van jou geestelike bestemming en mis die beskermende hand van God.

Jy ken daardie gevoel om by jou geestelike bestemming te wees, en vandag verlang jy na dit.

Die beste raad wat ek jou vandag kan bied, is om na God te draai.

Herinner Hom aan die dae toe jy opreg voor Hom gewandel het en dat jy graag weer daardie lewe wil terughê.

Erken en bely aan Hom dat jy opreg jammer is dat jy jou geeste­like bestemming verlaat het.

Vra Hom om jou weer die regte pad te wys, want jy wil nie meer vertoef by die bestemming waar jy nou is nie.

Die profeet Jesaja bring vir jou hoop wanneer jy verlore voel: “En jou ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop!”

Wees dan nou vandag gehoorsaam aan die stem van God en verlaat jou huidige bestemming in die wêreld en keer terug na jou geestelike bestemming tussen jou broers en susters.

Wanneer jy terug is by jou geestelike bestemming, begin God vertrou en dien Hom soos nog nooit vantevore nie.

Moenie soek na dit wat jy gehad het nie, want ’n voël met ’n af vlerk kan dié hoogtes nie weer haal nie, maar die siel gereinig deur God kan nog hoër hoogtes bereik.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters