3 jaar gelede
Laat God toe om vir ons pad aan te wys
Foto:  ~ 

PSALMS 119: 35: Laat my wandel volgens u gebooie, want daarin vind ek my vreugde.

Geliefdes, Dawid vra in hierdie Psalm om in God se weë te wandel.

Hy besef sy lewe is van korte duur en hy kan nie sy lewenspad sonder God aanpak nie.

Dawid weet hy is veilig in God se hande. Dawid sê vir God dat hy die bepalings wat God uiteengesit het, wil gehoorsaam.

Dawid wil hom verlustig in God, want hy weet God sal die begeertes van sy hart laat waar word.

Geliefdes, ons is op ons lewensreis, maar ons is rigtingloos. Ons weet somtyds nie waar ons ons bevind in die Godheid nie.

Dawid vra in vers 9 van die Psalm hoe ’n jong mens sy lewe skoon kan hou.

Hy antwoord self: deur sy of haar lewe na God se Woord te hou.

As ons kyk na ons jong mense van vandag, word ’n mens hartseer, want hulle is op ’n verkeerde weg.

Maar as jong man smeek Dawid God met sy hele hart om hom genadig te wees.

Hy vra God om sy rigtingaanwyser te wees, want Dawid weet, soms kan ons die pad byster raak.

Ja, geliefdes, op hierdie lewenspad is dit nie maklik nie en Dawid het dit geweet. Dawid smeek God om by hom te wees en hom nooit te verlaat nie.

Geliefdes, somtyds gaan ons gebuk onder ­moeilike omstandig­hede, maar ­Dawid sê in vers 105: “U Woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.”

Dawid besef egter die vyand (Satan) is nie tevrede nie: “Laat u woord my op die regte pad hou; moet tog nie dat enige kwaad die oorhand oor my kry nie.”

Ek wil u bemoedig, geliefdes. Jong mense, kom ons kies God vandag as ons rigtingaanwyser sodat ons staande kan bly op die lewenspad.

God belowe ons hy sal ons nooit begewe of verlaat nie en hy doen sy woord gestand.

God seën u. Amen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters