Verlede maand
Kyk na God vir jou doel
 ~ 

’N LEWE sonder ’n doel bereik gewoonlik weinig. Om konstruktief na ’n positiewe doelwit te werk, is die geheim van ’n suksesvolle lewe. Maar alleenlik as die doel jou hoogste en suiwerste ideale waardig is.

Baie mense het ’n duidelike visie van wat hulle lewe behoort te wees. Hulle weet hulle sal net ware geluk en vervulling smaak as hulle daardie visie bewaarheid.

Maar omdat dit harde werk, dissipline en opoffering verg, besluit hulle soms om maar met die tweede beste tevrede te wees.

Somtyds beland ons in ’n groef, nie omdat ons onbekwaam is nie, maar omdat ons bloot lui is om ons lewenstaak te vervul.

Op watter gebied ook al jy in die samelewing beweeg, dit is jou plig teenoor God en jouself om te alle tye slegs jou allerbeste te gee. Jy durf nie met ’n tweedeklasbestaan tevrede wees nie.

’n Mens moet ’n doel hê wat groot en verhewe genoeg is om jou te lig uit die verstandelike en geestelike groef waarin jy verkeer.

So ’n doel kan jou inspireer en motiveer.

Jou plig teenoor God is nie ’n abstrakte teorie wat ver verwyderd is van die alledaagse realiteite van die lewe nie. Dis ’n volgehoue lewenswyse wat God deel van elke daad en gedagte maak.

Dan word Christus jou inspirasie en sy wil jou lewensvervulling.

Vra die Heilige Gees vandag om jou missie vir die nuwe jaar en die res van jou lewe aan jou te openbaar.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters