Verlede jaar
Keer jou rug op die ou wêreld en soek god
 ~ 

1 JOH. 2:15-17: “Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld lief het, is die Vader se liefde nie in hom nie.”

Hier het ons weer die teenstelling tussen die twee strydende magte – die wêreld en die wil van God.

Wie die wêreld lief het – of minstens lief het volgens die wil van mense – kan God nie liefhê nie.

Wie God lief het, lewe volgens die wil van God en doen die wil van God.

Die mens is ’n afhanklike wese en word gelei deur die mag van die wil van die wêreld of dié van God.

Die wêreld en sy versoekings lei altyd tot verval – en só gaan dit met almal wat in en van die wêreld is.

Waarom kan so baie Chris­tene nie staande bly nie?

Waarom tree so baie Christene altyd weer agteruit?

Is dit omdat daar nog te veel van die gees van die wêreld in hulle is?

Hulle bly onstandvastig, maar die wil van ons God is ewig en onveranderlik.

Wie God se wil doen, word standvastig in wil en karakter, en dit hou hom of haar staande teen die aanslae van die duiwel.

Tot in die ewigheid sal hy of sy nooit wankel nie.

Geen wonder jou lewe en die lewe van baie ander mense is so onvas nie.

Dit is omdat jy nie die enigste middel tot blywende standvastigheid ken nie.

Ja, wie die wil van God doen, staan vir ewig.

Daar is net een raad: Roep tot God met ’n diep begeerte dat hy jou ware Christenskap moet laat verstaan.

Deur Christus te volg, doen jy die wil van God.

God het dié wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste seun, Jesus Christus, vir ons sondes aan die kruis laat sterf het.

Jesus se pynlike dood was nodig sodat Hy aan ons ewige verlossing kon bied.

Kyk vandag op na die kruis, want Jesus ontmoet jou daar.

In ál Jesus se heerlikheid het Hy uit liefde vir die mensdom daardie pynlike dood gesterf.

Bid aanhoudend dat Hy aan jou die hemelse lieflikheid en begeerlikheid van Sy wil sal openbaar.

Bid dat die Gees van God soos ’n vuur in jou moet brand.

Die Here is die weg en die waarheid en die lewe.

Hy is die alfa en die omega; die begin en die einde.

Bly in Jesus vir ewig en altyd.

  • Bennie du Plessis is verbonde aan die United Congregational-kerk in Saldanha.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters