2 jaar gelede
Jy, bouer van jou lewe, besit reeds die ‘plan’
 ~ 

EK WEET wat Ek vir julle beplan, sê die Here. Voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting! (Jer. 29:11).

Wat ’n wonderlike plan het God nie vir ons nie, en dis reeds goedgekeur deur die bloed van die Lam.

Nes ’n plan eers goedgekeur moet word voordat ’n projek kan begin, is die plan wat God vir ons het, goedgekeur.

Is dit nie wonderlik nie!?

Ál probleem is, ons hét die plan, maar doen niks daarmee nie.

Verbeel jou jy vertel almal van die mooi huis wat jy wil bou. Jy is so gaande daaroor, jy wys die plan vir hulle – jaar in, jaar uit.

Maar wat beteken die plan tog sonder die gebou? God gaan sover soos om te sê Hy bied ’n fondasie en ’n hoeksteen.

Is dít nie wonderlik nie!?

So, wat is ons taak? Net om te begin bou, dis wat. En hoe bou ons?

Nie net met woorde nie, maar met dade: Deur liefde te toon en dit te bied. Baie van ons fokus op liefde vir ander, maar ons vergeet hoe om onsself lief te hê.

Jesus sê “jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Mark. 12:31), maar hoe kan jy dit doen as jy jouself nie lief het nie.

Onthou, solank dit nie op skrif is nie, sal alles wat jy doen ’n droom bly – jaar in, jaar uit.

Sonder aksie kan daar nie ’n reaksie wees nie, so, begin sommer vandag bou aan jou lewe, want die plan is reeds goedgekeur.

Jy is reeds toegerus met alles wat jy nodig het vir die taak, geseën met alle hemelse seëninge denkbaar.

Wat verhinder jou? Niks nie, behalwe net die stand van jou geloof vandag. Glo jy jy kán of glo jy jy kan nié?

Onthou, verandering begin van binne. Dis tyd om die oorsaak te wees en nie meer die gevolg nie.

Neem jý vandag daardie besluit in jou lewe!

Ondersoek jou emosies, want dit sal bepaal hoe en waarmee jy bou.

Die Teenstander weet hoe om dit in alle opsigte uit te buit. Hy manipuleer geen invloede van buite nie, maar dié van binne.

Hy laat jou fokus op die gevolg (buite) en nie die oorsaak (binne) nie.

Dan dié wyse woorde: “Bewaak jou hart meer as enigiets anders wat bewaak moet word, want daaruit is die oorsprong van die lewe.” (Spr. 4:23).

Wees waaksaam vir skuldgevoelens, vrees, vernedering, blamering, ensomeer. Fokus op jou krag.

Die blydskap van die Here is jou beskutting. Shalom.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters