3 jaar gelede
Jesus ‘snoei’ ons sodat ons meer vrugte dra
 ~ 

JOHANNES 15.2: Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra.

Wees gegroet in die naam van Jesus. Wat ’n voorreg om hierdie woorde van hoop met julle te deel.

Jesus is die ware wynstok en ons is die lote. Sonder Hom in ons lewe kan ons nie lewe nie.

Ek dink aan die wingerd; hoe die boer dit gereed kry om baie vrugte te dra. Dan moet dit mos gesnoei word sodat dit baie vrugte kan oplewer.

Ons het al gesien hoe God tussenbeide tree wanneer ons loot onvrugbaar is as gevolg van sonde.

Maar wat doen Hy wanneer ons lewe se loot baie goed lyk – soos daardie pragtige wingerdstok?

Nadat Jesus vir sy dissipels vertel het hoe die boer vir die onvrugbare loot sorg, het hy ’n loot wat welig groei maar net ’n paar trosse druiwe aangehad het, opgetel.

God se metode om ’n groter oes te kry, is nie wat ek en jy graag sou wou hê nie. Sy plan is om te snoei, wat beteken om uit te dun, minder te maak en af te sny.

So ondenkbaar, so teenstrydig soos wat dit klink, die boer se geheim vir meer is ... minder.

Is jy gereed vir ’n ontstellende waarheid wat jou sal bevry om die beproewings wat jy tans beleef in ’n nuwe lig te sien?

’n Verandering kan jou beproewings in iets goeds omskep en jou met ’n pragtige oes vir God beloon.

Indien nodig, sal Hy dit waag dat jy selfs sy metodes en motiewe misverstaan.

Sy doel is dat jy onvolwasse betrokkenhede en mindere prioriteite sal uitsny om plek te maak vir selfs nog groter oorvloed tot sy verheerliking.

Kom ons maak plek vir belangriker dinge in ons lewe in 2017.

Maak Jesus koning van jou woning. Ek word minder en Hy word meer in ons lewe.

Toe die dissipels daardie aand na die loot in Jesus se hand gekyk het, het hulle presies geweet wat Hy met “snoei” bedoel.

Wingerde was toe reeds al byna 2 000 jaar ’n simbool van God se voorsiening aan Israel.

Die dissipels het druiwe geken soos wat ’n hedendaagse Brit tee ken.

Hulle het verstaan dat ’n mens teen die plant se natuurlike neigings moet werk ten einde meer uit die wingerdstok te haal.

Kom ons laat toe dat God in ons lewe werk. Mag 2017 vir julle ’n groot oes oplewer en mag God jou grondgebied verbreed.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters