3 jaar gelede
Jesus nooi almal om na hom te kom
 ~ 

MATTEUS 11:28-30: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir jul gemoed. My juk is sag en my las is lig.”

Jesus nooi jou: “Kom na My toe.” Dis ’n uitnodiging wat jy nie van die hand kan wys nie.

Dis nie ’n uitnodiging na ’n verjaardag, huweliksherdenking of doop nie. Dis ’n uitnodiging van die Here af.

Hy bind ’n belofte aan die uitnodiging: Jy sal rus kry vir jou siel – veral diegene wat voel hulle het die stryd van die lewe verloor.

Aan almal wat die daaglikse stryd verloor, wie se bekommernisse te veel geword het, almal wat die lewenswedloop nie kan volhou nie. Mense wie se huwelik op die rotse loop, mense wat siek is. Die Here nooi jou vandag om na Hom toe te kom.

God gee krag in swakheid. God gee krag sodat jy staande kan bly in hierdie sondige wêreld. Antwoord vandag op hierdie uitnodiging, want daar is ’n roepstem van Jesus na jou. Net Hy kan jou die ware sielerus waarborg.

In Lukas 19 het die Here vir Saggeus ook dié sielerus gegee toe Hy hom by sy huis besoek het.

Met Jesus aan jou sy is jou lewenspad soveel mak­liker. Vra jou af: Wanneer Jesus ons die dag kom haal, waarmee gaan Hy my besig vind?

Die Here wag vandag met ope arms om jou te verwelkom en hom as die ware Vredevors te erken.

Hy gee vandag vir jou ’n genadekans om Hom as jou Saligmaker aan te neem. Soveel mense wat ons reeds ontval het, het hul kans verbeur om hul saak met die Here reg te stel.

Jesus is vandag jou antwoord op al jou probleme. Hy gee krag wanneer ons in wanhoop verkeer en in ons beproewing.

Wanneer die lewe vir ons moeilik raak, gee Jesus ons krag sodat ons kan staande bly teen die duiwel se aanslae.

Antwoord vandag op sy roepstem en jy sal ’n skat in die Ewigheid ontvang.

Die hand van die Here is nooit te kort om te help nie en sy oor nooit te swaar om te luister nie.

Wat ’n wonderlike belofte is dit wat Jesus vandag vir ons gee. Jy moet net antwoord en die uitnodiging aanvaar.

By Jesus sal jy rus vind.

God seën u almal.

  • Bennie du Plessis is van die United Congregational Church in Saldanha.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters